Sielsdinge

Stephan Joubert: Goeie leefpunte eerder as standpunte

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Amerikaanse vriend het eenkeer opgemerk dit lyk of Suid-Afrikaanse Christene altyd 'n standpunt oor enigiets moet hê. "Perhaps you also need a walking point," sê hy.

Inderdaad! Standpunte is meestal reaktief. Dis "statiese" standpunte in reaksie op die jongste krisisse, probleme en vraagstukke in die samelewing. Dis nie verkeerd om deurdagte standpunte te hê nie, maar as ons gedurig net standpunte moet inneem oor die jongste dinge in die samelewing wat almal ontstel, kort ons ook 'n looppunt. Of is dit eerder 'n leefpunt? Ons leef tog nie "insidenteel" nie. Ons leef nie net van voorval tot voorval waaroor ons standpunte moet inneem nie.

Ons moet meer bekend wees vir ons goeie dade, verdraagsaamheid en liefde vir God en ander as vir ons standpunte.

As dit na 'n draadsitterige standpunt klink - Petrus leer juis dit. Nadat hy gelowiges in 1 Petrus 2:13 opgeroep het om gehoorsame burgers in verskillende instellings te wees, sê hy in vers 15-17 watter invloed die regte leefwyse op ander kan hê. "God wil hê dat julle, deur julle goeie lewenswyse, 'n einde sal maak aan die onkunde van die mense wat geen insig het nie. Leef as vry mense . . . Respekteer almal. Julle moet julle medegelowiges liefhê, julle moet vir God ontsag hê en die koning eer."

Kom ons doen dit. Kom ons raak meer bekend om ons goeie leefpunte eerder as ons standpunte.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM