In die Johannes-evangelie praat Jesus gereeld oor daardie groot uur waarvoor Hy aarde toe gekom het. Ons hoor dit reeds vroeg in sy bediening as Hy by die bruilof in Kana vir Maria sê sy uur het nog nie gekom nie (2:4). Later, in 'n gesprek met godsdienstige leiers in Jerusalem (5:25-28), sê Jesus daar kom 'n uur, en dit het nou aangebreek, dat dooies die stem van die Seun van God sal hoor en leef. In Johannes 7:30 ontstel Jesus se leringe in die tempel die godsdienstige leiers so dat hulle Hom gevange wil neem, maar hulle kan nie, want sy uur het nog nie aangebreek nie.
Uiteindelik, as mense Jesus tydens die Paasfees in Jerusalem te siene wil kry, kondig Hy aan dat die uur aangebreek het dat die Seun van die mens verheerlik gaan word (12:23). Jesus weet sy uur is nou hier (13:1). Dit ontstel Hom (12:27-28), want dit is ook die uur dat almal uitmekaar gejaag gaan word en Hom alleen sal laat (16:32). Nogtans kan Jesus kort voor sy kruisiging vir sy Vader vra dat Hy sy Seun sal verheerlik in hierdie einste uur (17:1). Jesus weet immers sy uur is die beslissende moment op die hemelse kalender waar Hy self die weerligafleier tussen hemel en aarde word. In Paasnaweek herdenk ons Jesus se beslissende uur opnuut. Kom ons doen dit reg. Kom ons maak Jesus se beslissende uur ook ons s'n.
Uit die Woord
"Amen, amen, Ek sê vir julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat hoor, sal lewe." - Johannes 5:25





















