"Bring Christus terug in Kersfees," sê sommiges.
Ek doen dit nooit nie. Ek weet Hy is reeds hier. Ek hoef Hom nie terug te bring nie. Ook vat ek Hom nêrens heen nie.
Dis andersom. Hy vat my altyd saam met Hom in sy triomftog van liefde deur die wêreld. So skryf Paulus in 2 Korintiërs 2:14. Maar as daar wel iets wat ek wel moet doen, dan is dit om opnuut bewus te wees van Christus se teenwoordigheid hier in die feestyd.
Hiervan gepraat, my ma het soms vir ons gesê: "Dis nie aldag Kersfees nie." Sy het dit gesê wanneer ons iets wou hê wat sy nie kon bekostig nie.
Maar nou is dit inderdaad Kersfeestyd. Jesus, oor wie Kersfees handel, se plek is nie leeg by ons feestafels nie. Sy plek is ook nie leeg in hospitale, polisiestasies, kantore en ander werkplekke waar sy mense in hierdie dae aan diens is nie.
Jesus is die Eregas en die Gasheer by ons almal. Nie een van God se kinders is in hierdie dae alleen nie. Geseënde Kersfees!
Uit die Woord
Maar dank aan God, wat ons altyd deur Christus in sy triomftog meevoer, en die geur van sy kennis op elke plek deur ons versprei. - 2 Korintiërs 2:14





















