Outokratiese leiers wat almal hardhandig op hul plek sit en fliekhelde wat alles en almal stukkend skiet, is hoog op die gewildheidsleer. Ek wonder hoekom. Hoekom word gelowiges so maklik beïndruk deur robuuste politici, skopskietende fliekhelde en selfs deur kerklike magsugtiges, maar selde deur diensknegte en nederiges?
Ons het opgeteken om ’n ander leier te volg. Ons volg Jesus. Hy sê in Markus 10:42-45 vir sy dissipels in sy kring geld ander waardes en norme. In die wêreld domineer magtige leiers mense deur mag en geweld, maar in Jesus se kring dien mense mekaar. Hier dra ons mekaar op die hande. Hier is die eerste laaste en die grootste die kleinste. Hier triomfeer nederigheid en diensbaarheid.
Maak geen fout nie, Jesus staan aan die stuur van ’n reuse- nuwe koninkryk, een wat reeds eindelose oorloë, tiranne en booshede oorleef het. Kort voor sy kruisiging het Hy egter vir Pilatus, die magtige Romeinse goewerneur, gesê sy koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. Daarom veg sy volgelinge nooit met swaarde en geweld om dit in stand te hou nie (Johannes 18:36). Om Jesus te volg is om sy kruis te dra. Om Hom te volg is om in sy vreemde weermag van vredemakers te dien.
Uit die Woord
Jesus het hulle na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle weet dat hulle wat as heersers oor die nasies beskou word, oor hulle baasspeel en dat hulle maghebbers oor hulle gesag uitoefen. So is dit egter nie by julle nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. Want ook die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.” – Markus 10:42-45
Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my koningskap van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer word nie. Maar nou is my koningskap nie van hierdie wêreld nie.” – Johannes 18:36













