Sielsdinge

Stephan Joubert: Jy hoef nie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Pixabay
Foto: Pixabay

Jy hoef nie deel te neem aan elke mondgeveg wat rondom jou woed nie.

Jy hoef nie antwoorde op elke vraag of probleem te hê nie. Jy hoef ook nie 'n standpunt te hê oor elke vraagstuk waaroor almal jou mening verlang nie.

Jy hoef nooit in enige kamp ingejaag te word nie. Partykeer kan jy op jou eie die middelgrond voorstaan. Die middel is ook 'n posisie - meestal 'n goeie een - al meen diegene links en regs van jou nie só nie. In ons dag is die middel selfs die nuwe radikaal. Dit kos leeuemoed om nie in gevegte weerskante van elke draad opgeslurp te word nie.

Jy mag van opinie verander. Dit is wys, en broodnodig, om vir jouself te dink. Dit is wys om aan te hou leer en om aanpasbaar te wees.

Jy mag van ander verskil. Om gedurig met almal rondom jou saam te stem kan jou dalk gewild maak in hul oë, maar jy sal altyd in jou hart weet jy is nie getrou aan jouself nie.

Jy hoef nie skaam te wees oor jou geloof nie. Nee, jy dwing dit nooit liefdeloos op ander af nie. Jy hoef nie gedurig vir almal te bewys jy staan op vir die Here nie. Jy leef stylvol vir Hom. Jy beoefen jou geloof keurig. Jy vind groot vreugde in jou verhouding met God. Dan leef jy mooi. Dan leef jy goed op die Here se manier.

Uit die Woord

Streef saam met diegene wat die Here met 'n rein hart aanroep, na regverdigheid, geloof, liefde en vrede; maar vermy die dwase en afbrekende twisgesprekke, omdat jy weet dat dit aanleiding gee tot rusies. 'n Dienskneg van die Here moenie rusie maak nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig, geduldig, iemand wat teenstanders met sagtheid teregwys. - 2 Timoteus 2:22-25

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM