Die Kerstyd is nou volspoed aan't gebeur. Baie dinge rondom Kersvierings het oor die laaste jare verander, maar baie dinge het ook dieselfde gebly.
Die nostalgie van Kersfeesmusiek is steeds met ons. Ook is al die feestelike uitstallings in winkels, die liggies in baie tuine, groot etes en familiekuiers steeds met ons.
O ja, en soos klokslag elke jaar is die anti-Kersfees-bendes op hul pos om almal te probeer wysmaak dat Kersfees 'n heidense oorsprong het. Waag jy dit om vir hulle te sê jy heg 'n ander betekenis hieraan, en dat jy saam met derduisende gelowiges kies om Jesus se aankoms in die wêreld in hierdie tyd te herdenk, dan word jy onseremonieel op jou plek gesit.
Elke jaar gun ek daardie anti-Kersfees-mense hul Desember-beswaardheid. Ek meen, iemand moet darem ook bitter van gal wees terwyl die res van ons feesvier oor Jesus se aankoms hier tussen ons.
Lyk my sommige mense kan Jesus se soort Kersfees net nooit geniet nie. Want dis presies wat ons vanjaar opnuut gaan doen. Ons kleur ons eie Kersfeesprentjie in met Jesus se teenwoordigheid.
Ons vier sy koms.
Uit die Woord
Want 'n kind is vir ons gebore, 'n seun is aan ons gegee.
Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. - Jesaja 9:5





















