Sielsdinge

Stephan Joubert: Kies vir deurdagte verwondering

Nadenke
Christian woman praying on the holy bible in a field during a beautiful sunset. woman standing with closed eyes with the Bible in his hands, Concept for faith, spirituality, and religion. Wishing. Nadenke (pcess609/Foto: Getty Images)

Daar’s nie so iets soos finale sekerheid nie, meen sommige. Die digter W.H. Auden dink anders. Hy bied ’n bevrydende perspektief daarop. Hy sê: “When enchanted we neither believe nor doubt nor deny: we know.” Die sleutel lê vir hom in verwondering – die regte soort. Auden weet immers ook daar’s iets soos vals verwondering. Dit lei tot selfbedrog.

Helaas is sommige godsdienstiges se sekerhede in selfbedrog gesetel. Jy sien dit wanneer mense skeefgetrekte idees oor die eindtyd of die wegraping blindelings glo en onderskryf. Jy sien dit wanneer mense hul mediese behandeling staak omdat hulle “weet” dat hulle genees is. Of wanneer mense “weet” die Here het sekere dinge vir hulle gesê wat geen sin maak nie. Niks of niemand kan hulle dan anders oortuig nie. Sulke selfbedrog lei altyd tot groot ontnugtering wanneer dinge skeefloop.

Die regte roete is om ons verwondering te begrond op ’n goeddeurdagte lewe. Die Here het aan ons die vermoë gegee om te reflekteer en na te dink. Dit moet ons gedurig doen. Ons moet ons kennis en ervaring begrond in aanhoudende nadenke oor sy Woord en oor die lewe. Dan groei ons in die regte kennis van God, asook in die nodige selfkennis. Dan groei ons verwondering oor God se goedheid reg groter.

Uit die Woord

Die begin van wysheid is ontsag vir die Here; almal wat sy opdragte uitvoer, het goeie insig. – Psalm 111:10

CTA