Chris Anderson, wat aan die stuur van die TED-platform staan, sê dit moet enige spreker of leier se droom wees "to transfer into your listeners' minds an extraordinary gift - a strange and beautiful object we call an idea". Idees en verhale wat die moeite werd is om te deel, moet eenvoudig gedeel word. Maar dit moet op magnetiese maniere gedoen word.
Van magnetiese idees gepraat: Dis die denker en skrywer C.S. Lewis wat die evangelie op 'n keer as 'n goeie infeksie beskryf het. Wanneer die goeie nuus oor Jesus reg en mooi gekommunikeer en uitgeleef word, is dit vir hom soos 'n aansteeklike infeksie.
Dis hoekom Paulus sy verkondiging oor Jesus 60 keer in Grieks met die term euagellion, oftewel goeie nuus, omskryf het. Dít was sy magnetiese idee, sy treffrase van al Jesus se woorde en dade. Paulus het geweet dit is 'n lewensveranderende verhaal, een waaroor hy hom nie skaam nie, soos wat hy in Romeine 1:16 sê. Maar hy het ook geweet die evangelie moet op kreatiewe maniere gepraat, gepreek en geleef word.
Dis nie 'n slaaptydstorie nie. Predikers moet die gewig van die Woord én die kosbaarheid daarvan op hul skouers voel wanneer hulle dit oordra. Jy en ek moet dieselfde beleef wanneer ons oor die Here praat. Hy vertrou ons met sy hemelse skatte wat ons met geesdrif en oortuiging verder moet aangee.
Uit die Woord
Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo . . .
Soos daar geskryf staan: "Hoe lieflik is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!" - Romeine 1:16 en 10:15





















