Wat is ons moedertaal? Ons sal dadelik sê: Afrikaans. Of Engels. Of een van ons land se ander tale.
Ons moedertaal is die taal waarin ons grootgeword het. Ons droom, skryf, sing en praat dit. Dis egter jammer dat ons slegs aan ons spreektaal as ons moedertaal dink. Ons as gelowiges moes eerste aan die hemel se moedertaal gedink het.
Die taal van die hemel is die taal van vreugde en lof. As jy vir 'n oomblik saam met Johannes in Openbaring 4-5 by die hemel inkyk, dan hoor jy slegs hierdie taal. Dan hoor jy hoe die hemelse skares God loof en prys. Dan hoor jy hoe hulle feesvier in sy teenwoordigheid. Hulle prys God as Skepper van hemel en aarde. Hulle prys Christus as die Lam wat geslag is en mense losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.
Die moedertaal van die hemel is lof en aanbidding. As dit nog nie ons eerste taal is nie, is dit dié taal wat ons moet baasraak. Ons moet leer om God te loof en te aanbid. Ons moet ons hart verskuif na die hemelse skare toe en saam met hulle begin sing. Ons moet dit elke dag inoefen.
Uit die Woord
Hulle aanbid Hom wat vir ewig en ewig leef, en sit dan hulle krone voor die troon neer, terwyl hulle sê: "U is waardig, ons Here en God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, omdat U alle dinge geskep het; deur u wil het alles ontstaan, is dit geskep." - Openbaring 4:10-11





















