Stephan Joubert: My padkaart vir 2025

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Pixabay
Foto: Pixabay

1. In 2025 is die Here my Herder.

2. In 2025 gaan ek Jesus se kruis getrou dra omdat sy kruis my dra.

3. In 2025 gaan ek 'n raaksiener en verspreider van goeie nuus wees. Daar's oorgenoeg mense rondom my wat die teenoorgestelde doen. Ek gaan eerder fokus op God se goedheid, en op al die goeie dinge wat mense doen.

4. In 2025 gaan ek tussen ander en ook saam met ander leef aan die hand van 1 Korintiërs 13. Ek gaan nie by voorbaat die slegste van mense dink nie. Ek gaan nie boekhou van die kwaad nie. Ook gaan ek myself nie daarin verlustig as ander soms sukkel om die regte koers te vind nie.

5. In 2025 gaan ek my eie omstandighede nie met ander mense s'n vergelyk nie. Nooit gaan ek sê ek dink nie dit kon erger gewees het nie. Dit is erg genoeg . . . maar dit is ook goed genoeg!

6. In 2025 gaan ek vrygewig leef. Ek gaan ander laat deel in die bietjie of bietjie meer wat ek self het.

7. In 2025 gaan ek vrede maak met die feit dat ek in onseker tye en omstandighede leef. Dit is hoe dit is. Ek gaan nie gedurig geskok, ontsteld en omgekrap wees saam met die res nie.

8. In 2025 gaan ek groter vreugde in eenvoud vind.

9. In 2025 gaan my lewe deur eerbied teenoor God en mense gekenmerk word.

10. In 2025 gaan die Here en my geliefdes meermale my gesig sien as my rug. Ek gaan meer tyd maak vir hulle.

Uit die Woord

Die regtige liefde die se bek is nooit nie dikkie,

jy sien hommie skinner en jy hoor hommie klikkie,

hy skrywe die kwaad okkie in boekietjiese oppie.

Die liefde maak alles mooi toe met hy se sawwe karos.

- Uit "1 Korintiërs 13" deur Hans du Plessis, Innie skylte vannie Jirre, Lapa Uitgewers, 2001)

SPELETJIES VANDAG

CTA