Die ou dae is mos altyd beter as vandag, of só dink mense.
Toe het alles nog gewerk. Toe was daar nog beginsels. Toe het mense nog tyd oorgehad vir mekaar. Toe was niemand geldgierig, oneerlik, selfsugtig, ongelowig of immoreel nie.
Wel, kom ons wees eerlik: Die goeie ou dae is net goed solank as wat ons nie self daar is nie. Maar as ons dit dalk sou regkry om vir 'n oomblik terug te keer na "die goeie ou dae", sal almal daar vir ons sê dis toe nie maanskyn en rose soos wat ons gedink het nie.
Daar's niks fout met nostalgie oor goeie tye in die verlede nie. Ons moet juis ruimte skep vir sulke nostalgiese oomblikke saam met ons vriende en familie. Maar ons leef nie gister nie, ons leef vandag. Miskien is dit hoekom Prediker 7 sê ons moenie sê gister was beter as vandag nie.
Ons as gelowiges leef met die wete die Here is hier en nou by ons. Tot hiertoe het Hy ons gelei. Vorentoe gaan Hy ook nie ons hand los nie.
Uit die Woord
Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie, want dit is nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie. - Prediker 7:10





















