Sielsdinge

Stephan Joubert: Ons is nog nie daar nie, maar . . .

Ontkiem
Ontkiem (Foto: Getty Images)

Toe Martin Luther King jr. in 1964 in die City Temple in Londen gepreek het, het hy afgesluit met ’n gebed van ’n prediker van weleer wat onder Amerikaanse slawe gewerk het. Op ’n ongekunstelde manier het dié wyse man soos volg gebid: “Lord, we ain’t what we want to be. We ain’t what we ought to be. We ain’t what we gonna be. But thank God, we ain’t what we was.”

In gewone Afrikaans: “Here, ons is nie wat ons wil wees nie. Ons is nie wat ons veronderstel is om te wees nie. Ons is nie wat ons gaan wees nie. Maar dank God, ons is nie wat ons was nie.”

Wat ’n opregte gebed. Ons is nog nie daar nie, maar ons is ook nie meer daar waar ons was nie. Ons is nog nie op God se standaard nie, maar ons is nie meer op ons eie standaard nie. God het ons gekry waar ons was, maar genadiglik het Hy ons nie daar gelos nie. Hy het deur sy Gees in ons gewerk. Hy doen dit steeds. Ons is onder hemelse konstruksie. Dis nog lank nie klaar met ons nie. Die laaste woorde is nog nie geskryf nie. Wat ’n groot genade!

Uit die Woord

Ek dank my God elke keer wanneer ek aan julle dink. Altyd, in elke gebed van my vir julle almal, bid ek met blydskap oor julle deelname aan die evangelie, van die eerste dag af tot nou, juis hiervan oortuig dat Hy, wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus. – Filippense 1:3-6

Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. – 1 Petrus 3:18