Geloof sonder vreugde is soos 'n land sonder enige sonskyn. Die Here het ons geskep vir vreugde, want Hy is self die God van vreugde. Om vreugdeloos te leef is 'n kontradiksie in terme, soos wat my een vriend sou sê. Nee, vreugde is nie 'n doel op sigself nie. Vreugde is die uitvloeisel van ons geloof in die Here. In Hebreërs 1, waar Psalm 45:6-7 op Jesus van toepassing gemaak word, hoor ons juis Hy is ons Messias-koning wat met vreugde-olie gesalf is.
In die dae van Jesaja 61:3 is daar gedroom van dié dag dat God se volk se droefheid vervang sou word met vreugde-olie. Wel, ons leef nou in daardie einste tyd. Ons leef in daardie dae dat die Gees oor die Here se volk uitgestort is. Hy stort boonop sy vreugde as geskenk oor ons uit, soos wat Galasiërs 5:22 vertel. Nou leef ons vroliker en ligter. Nee, ons leef nie ligsinnig nie, ons leef ligvoets. Ons lag meer. Ons vind meer vreugde in eenvoud. Ons geniet die Here se goedheid. Ons geniet mekaar. Ons vier die lewe met blydskap.
Uit die Woord
U kom elkeen tegemoet wat met vreugde doen wat reg is, wat op u paaie aan U bly dink. - Jesaja 64:5
Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom, en jubel julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap, omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele. - 1 Petrus 1:8-9





















