Kunsmatige intelligensie neem die wêreld oor. Iemand vertel my onlangs van een van ons grootste plaaslike versekeraars wat reeds 70% van al hul eise deur KI hanteer.
Tussendeur lees ek van meer as 500 Amerikaanse kitskosrestaurante wat oorgeskakel het na KI om klante se bestellings te neem.
Nog 'n nuwe roete wat gewild gaan raak, is om KI-agente as tydelike werknemers te gebruik om sekere take wat vroeër deur 'n groot personeelkorps gehanteer is, blitsvinnig te verrig.
Soos met ander nuwe ontwikkelinge moet ons benadering tot kunsmatige intelligensie dié van nuuskierigheid wees. Ons moet leer by ons voorouers in die geloof wat nie vir nuwe omstandighede geskrik het nie.
Paulus het byvoorbeeld vir ons gewys hoe om iets reg te kry wat nog nooit voorheen gebeur het nie. Deur middel van briewe, wat hy deur 'n netwerk van helpers versend het, het hy blitsvinnig (vir sy eie tyd!) 'n wêreldwye geloofsbediening opgerig en bymekaar gehou.
Martin Luther het op sy beurt die nuutgevonde drukpers van sy dag aangewend om sy 95 stellings te publiseer, en om in 1517 die Reformasie van stapel te stuur.
Ons moet by hulle leer om op relevante maniere 'n goeie aroma vir Christus te wees. Ons doen dit te midde van, en met behulp van, ons nuwe KI-aangedrewe werklikheid.
Uit die Woord
Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid. - Hebreërs 13:8






















