Jesus se koms het die tekstuur van die tyd ingrypend verander. Die Nuwe Testament omskryf hierdie nuwe tyd wat met sy koms aanbreek as "die laaste dae". Hebreërs 1:1 sê: "In die ou dae het God baie kere en op baie verskillende maniere met ons voorouers gepraat. Dit het Hy gedoen deur die profete. Maar nou het die laaste dae aangebreek hier op aarde. Nou praat God met ons deur die Seun." (NNT)
Die eindtyd is Jesus se tyd. Dit is nie sinoniem met huidige rampe of booshede soos wat sommige beweer nie. Die draaipunt van die tyd is deur Jesus ingelei. Die kerk het dit van vroeg af só verstaan. Daarom het hulle hul kalenders algaande daarvolgens aangepas. Jesus se aankoms is op die nuwe geloofskalender as die jaar een beskou, oftewel 1 Anno Domini.
Sedertdien leef ons in die tyd van ons Heer. Elke dag, elke maand en elke jaar wat ons gegun word, speel binne sy tyd af. Ons kalenders sinchroniseer nou met God se tyd. Ons lewe sinchroniseer ook nou met God se wil.
Uit die Woord
Let daarom sorgvuldig op hoe julle leef - nie as onverstandiges nie, maar as wyses. Koop die tyd uit, omdat die dae vol boosheid is. Om hierdie rede moet julle nie onverstandig wees nie; probeer eerder om te verstaan wat die wil van die Here is. - Efesiërs 5:15-17





















