"Don't take life too seriously. You will never get out of it alive." Hierdie woorde, wat aan Elbert Hubbard toegedig word, bevat 'n groot waarheid. Vanuit 'n geloofsoogpunt beteken dit nie dat jy ligsinnig moet leef nie, net ligter. Jy moet ligter reis. Jy moet minder bagasie saamdra. Jy moet doen wat Jesus in Matteus 11 sê.
Jy moet jou laste vir sy ligte las omruil. Jy moet Hom met jou lewe vertrou, en met dié van al jou dierbares. Dan beweeg jy meer ligvoets deur die lewe. Dan ontgroei jy jouself sodat jy nie heeldag behep is met jou voorkoms, jou gewildheid, jou openbare beeld en al die res nie. Dan is jy vry genoeg om reg genoeg te leef.
Om minder selfgerig te leef, verskuif die fokus van jou lewe na daar waar dit hoort: na God toe! Om Hom ernstig op te neem, saam met alles wat Hy vir jou gedoen het en steeds doen, bevry jou van vrees. Dit maak jou vry om Hom van harte lief te hê en om meer sorgvry te leef.
Uit die Woord
"Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig." - Matteus 11:28-30





















