Toe die countrysanger en akteur Kris Kristofferson op 28 September vanjaar oorlede is, is sy musiek orals in herinnering geroep. Sy musiektreffers vanuit die vorige eeu is steeds diep ingegraveer in ons geheue.
Toe dink ek by myself: Sal dit nie wonderlik wees as ons ook so 'n langtermyngeheue kon hê oor die mooi dinge wat mense deur die jare reg gedoen het in die Here se Naam nie . . . en 'n korttermyngeheue oor dit wat sommige verkeerd gedoen het?
Ons skuld onsself 'n beter onthou, en 'n beter vergeet. Ons moet meer onthou van alles wat reg loop op God se front as dit wat skeefloop.
Paulus het presies dit reggekry. Daarom sê hy altyd aan die begin van sy briewe vir God dankie vir die mooi dinge wat Hy in mense se lewe tot stand bring. Paulus het eerste raakgesien wat reg is, nie dit wat verkeerd is nie. Hy het eerste onthou wat goed en mooi is in mense se lewe, nie dit wat stukkend is nie.
Kom ons kies ook vir so 'n goeie onthou in 2025.
Uit die Woord
Ons dank God altyd oor julle almal wanneer ons aan julle dink in ons gebede. Voor God ons Vader onthou ons onophoudelik die uitwerking van julle geloof, die moeitevolle inspanning van julle liefde en die standvastigheid van julle hoop op ons Here Jesus Christus. - 1 Tessalonisense 1:2-3





















