Mediese kletsbotte se gewildheid groei by die dag. Volgens ’n onlangse artikel in The Economist kry sowat 30% van Britte op dié manier mediese advies. Die rede: “AI-powered diagnoses have reached the level of an ‘average’ doctor in the field.” Toegerus met sulke kennis daag Britte by hul dokters op met ’n lys van al die simptome en siektes wat hulle meen hulle het en selfs ’n lys van die medisyne wat hulle blykbaar benodig.
Selfdiagnoses loop hand aan hand met die opbloei van mediese kletsbotte. Dit skep egter ’n nuwe probleem waarvoor ’n Engelse woord reeds bestaan: cyberchondria. Dit beteken om verhoogde spanning te beleef as gevolg van moontlike siektesimptome wat mense via die internet op eie stoom gediagnoseer het.
Loop lig vir enige vorm van selfdiagnose. Dit sluit ook internet-aangedrewe opinies oor die Bybel en geloof in. Gebruik alles wat jy aanlyn raakloop omsigtig en met oorleg. Nog steeds het ons regte mense nodig, van dokters tot Skrifkenners tot beraders.
Moenie jou hart, jou gesondheid en jou emosies oorhaastig aan digitale diagnoses van enige aard uitleen nie en oppas vir selfdiagnoses. Gebruik sulke hulpmiddels met oorleg, maar nooit as finale bronne van inligting nie. Klop aan by regte mense wat jou deursigtig en reg kan bystaan oor jou gesondheid, jou geestesgesondheid en jou geloof in God.
Uit die Woord
Daarom, bemoedig mekaar, en laat die een die ander in die geloof opbou, soos julle inderdaad doen. – 1 Thessalonisense 5:11






















