"Raak nou vir my kalm . . ." het een van ons onderwysers graag gesê. In Psalm 46 sê God dit ook. Hy sê sy volk moet tot bedaring kom. Hulle moet stil raak en weet Hy is die Here.
Hy sê dit terwyl dinge rof en onstuimig is rondom hulle. Oorlog en geweld bedreig hulle. Natuurrampe is aan die orde van die dag. Moeilikheid seëvier om elke hoek en draai. God wil egter hê hulle moet nou kalm raak. Hoe? Wel, hulle moet vlug. Waarheen? In vers 2 gee sy volk self die antwoord: "As ons in ons nood wil vlug, kan ons na God toe vlug. Hy is baie sterk. As ons beskerming soek, sal die Here ons beskerm. As ons in die moeilikheid is, sal Hy ons help" (Die Boodskap).
Vlug is steeds die roete as ons Psalm 46 se kalmte wil ervaar. Ons moet weet hoe om reg te vlug. Of liewer waarheen! Ons moet Godwaarts vlug. Hy is die Een by wie ons steeds rus en kalmte vind. In die midde van elke krisis is God ons skuilplek. By Hom raak ons regtig kalm.
Uit die Woord
"Wees kalm en erken dat Ek God is, Ek is verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die aarde." - Psalm 46:11





















