Om jou geloofslewe te vereenvoudig is 'n uitdaging. Om die een of ander rede is dit altyd makliker om dinge meer gekompliseerd te maak as eenvoudiger. Gebruik asseblief die volgende drie geloofsdissiplines om hierdie skeefgetrekte balans te herstel:
• Luister. Luister gereeld na die Bybel. Opbouende preke, Bybelstudies, musiek en gesprekke moet jou na die regte kennis en geloofservarings begelei. Verwelkom die Bybel as jou daaglikse reisgids en kompas. Verskuif dit van agtergrond tot voorgrond in jou lewe.
• Oordink. Oordink die Bybel gereeld. Moenie net passief daarna luister nie. Dink aanhoudend na oor dit wat jy daaruit leer. Bêre die Here se Woord in die brandkluis van jou hart en jou verstand. Daar kan diewe nie inbreek of steel nie.
• Doen. Sorg dat die Woord vinnig grondvat in jou daaglikse doen en late. Wees haastig om dit wat jy in die Bybel geleer het, prakties toe te pas. As jy byvoorbeeld daarin gelees het jy moet jou naaste liefhê, dan gaan soek jy dadelik iemand op wat jy in die Here se Naam kan dien en ondersteun.
Uit die Woord
Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. - Kolossense 3:16
Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. - Psalm 1:1-2
Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie. - Jakobus 1:22






















