Navorsers wys herhaaldelik op die negatiewe impak van oormatige blootstelling aan sosiale media op ons almal. Dit verlaag individue se sosiale vaardighede. Verhoogde vorms van narsisme word ook toenemend daarmee in verband gebring. In 'n onlangse boek toon Jonathan Haidt aan hoe sosiale media en slimfone veral kinders se vermoë om sorgvry te speel vervang het met dramatiese toenames in angs en depressie. Helaas tref dit ouer generasies ook, wat ewe verknog geraak het daaraan.
Dit is ouers se verantwoordelikheid om hul kinders reg groot te maak en om hulle in die weë van die Here te onderrig. Hierdie roeping kan nooit uitgekontrakteer word aan die kerk of die skool nie.
In Deuteronomium 6 se taal moet ouers gereeld tuis met hul kinders oor God gesels. Hulle moet dit doen as hulle opstaan en gaan slaap, en as hulle op reis is. Kortliks, die Woord moet invloedryk wees in gelowige families se lewe. Ook moet ouers duidelike reëls neerlê oor wanneer, waar en hoe lank sosiale media gebruik word. Ouers moet dit self voorleef. - Stephan Joubert
Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag. Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. - Deut. 6:5 en 7




















