Homo ludens, die spelende mens. Aan die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog het die Hollandse kunshistorikus Johan Huizinga in 'n lesing gepleit dat mense hierdie geheim van speel weer ontdek.
Sal ons dit dalk regkry in 2025, of is speletjies net dinge waarmee kinders hulself besig hou? Wel, dan begaan ons 'n klassieke grootmensfout! Dis juis in die onskuldige spel van kinders en grootmense(!) dat 'n nuwe vryheid en skoonheid in die lewe gevind word. Wanneer ons speel, verskuif ons harte agter ons liggaam aan na 'n ander werklikheid toe.
Opregte, ongekompliseerde spel skep mooi intermezzo's of rustydperke in ons lewe.
Ons rasionele koppe en ons haastige harte hou ons veels te besig. Dit maak ons moeg, beangs en gespanne. Ons moet opnuut leer hoe om ongekompliseerd te speel.
Ons moet dit ontdek saam met ons vriende, kinders, kleinkinders en troeteldiere. Maar eers moet ons ons grootmensharte inruil by Jesus vir opregte kinderharte. Ons moet verander en weer kinders word. Dan keer verwondering terug na ons lewe.
Dan ontdek ons skoonheid. Dan leer ons opnuut om te lag, en om meer speels en ligvoets te leef. Dan leer ons ook om God kinderlik opreg te vertrou.
Uit die Woord
"Amen, Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie." - Matteus 18:3






















