Solange De Vidts, 'n Chileense vrou, se pa, Carlos, is dood toe sy maar 12 jaar oud was.
Sy het onthou hy het haar vertel van 'n ernstige treinongeluk in Alpatacal, Argentinië, waarin hy betrokke was. Op 7 Julie 1927 is 30 mense dood in dié tragedie, onder wie kandidaat-weermagoffisiere van Chili. 'n Paar van Carlos se vriende was bewusteloos. Een ná die ander het hy hulle uit die brandende trein gaan haal. In die proses het hy self brandwonde opgedoen.
As 'n jong meisietjie het Solange gedink dis 'n versinde storie wat haar pa haar soms vertel het. Jare later het sy in die Chileense ambassade in Colombia gewerk. Iemand wat vir 'n paspoort daar aangeklop het, het haar van herken en gevra of dit haar pa was wat so baie mense se lewe gered het, onder wie syne. Toe besef Solange haar pa was regtig 'n held wat sy eie lewe vir ander op die spel geplaas het.
Jesus het kort voor sy kruisiging in Johannes 15:13 gesê daar is geen groter liefde op aarde as dat mense hul lewe vir hul vriende opoffer nie.
Sulke ware helde is meestal onbekend. Dit is hulle wat soms die koeëls van misdadigers trotseer sodat ander kan leef. Dit is hulle wat korrupsie ontmasker, al kos dit soms hul eie lewe.
Dit is hulle wat ander se lewe altyd belangriker ag as hul eie. Mag die Here gee dat ons ook sy soort helde sal wees wanneer daar op ons knoppie gedruk word.




















