Skrifgeleerdes het Deuteronomium 24:1 graag gebruik om egskeiding te regverdig in die tyd toe Jesus op aarde was. Daarvolgens mag ’n man wat iets onreins of onbetaamliks by sy vrou aantref, wettiglik van haar skei.
Voordat ons Jesus se reaksie hierop aanhoor, moet ons eers by Genesis ’n draai maak. Genesis 2:18-20 vertel hoe God ’n helper aan die mens gee. Adam was aanvanklik alleen. God skep toe vir hom ’n helper, ‘n ēzer in Hebreeus. Hierdie woord, wat in Psalm 121:1-2 vir God self gebruik word, dui daarop dat die vrou geskep is as gelyke om die man te help. Maar toe daag sonde op. As straf hierop in Genesis 3:16 het manlike baasskap en dominering ook op die toneel gekom.
Manlike dominering oor vroue is hoegenaamd geen seën nie. Jesus stel dit reg in Markus 10. Wanneer die godsdienstige leiers Hom nou probeer vasvra aan die hand van Deuteronomium 24 oor hoe mans wettiglik van hul vroue mag skei, sê Hy dis weens hul klipharde harte dat Moses in Deuteronomium 24 sulke goor keuses toegelaat het.
Dan neem Jesus hulle terug na Genesis 2 as God se oorspronklike plan. Jesus herstel nou hierdie oorspronklike Genesis-balans. Nie baasspelery nie, maar respek, liefde en diens triomfeer weer. Die straf is nou weg. Die vrou is weer ’n helper. Die man is bevry van dominering. Die paradys is weer oop. Nou kan ons mekaar vreugdevol op die hande dra.
Uit die Woord
Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is weens julle harde harte dat hy hierdie reël vir julle neergelê het; ‘maar van die begin van die skepping af het God hulle manlik en vroulik gemaak’. Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een liggaam wees, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. Daarom, wat God saamgevoeg het, moet ’n mens nie skei nie.” – Markus 10:5-9













