Onlangs gaan koop my vrou kunsmis by 'n kwekery. Sy wou ook onkruidgif koop en gaan vra raad by een van die werkers. Hy was besig om met 'n ouerige man te gesels. Dadelik het dié man aan haar begin verduidelik hoe verskillende gifstowwe werk.
My vrou was verstom. Toe sy hom bedank, antwoord hy: "Ek is eensaam. Maar as ek hier by die kwekery kom sit en ek deel my kennis met ander mense, voel ek weer nuttig."
Die samelewing het verkeerdelik besluit mense se waarde neem af met ouderdom. Later moet hulle aftree en uit die pad staan. Tog is daar soveel wysheid verpak in ouer mense dat ons nie kan bekostig om dit te verloor nie.
Spreuke sê die Here se wysheid is boonop ook verpak in bejaardes wat Hom dien. Kom ons respekteer ouer mense. Kom ons benut hul insigte, want ons het dit nodig in hierdie wêreld van ons wat brandarm is aan wysheid. Kom ons laat hulle nuttig voel terwyl ons self nuwe insigte opdoen aan hul voete. - Stephan Joubert
"Vir 'n grysaard moet jy opstaan, eerbied betoon aan 'n bejaarde en ontsag hê vir jou God. Ek is die Here." - Levitikus 19:32
Die verkryging van wysheid - hoeveel beter is dit nie as goud nie! Die verkryging van insig is verkieslik bo silwer. - Spreuke 16:16




















