Bring die klippe! Dit is wat die godsdienstiges voorskryf in Johannes 8. Hulle het 'n vrou wat owerspel gepleeg het tot steniging verdoem.
Maar eers wil hulle weet wat sou Jesus doen. Staan Hy nog by die wet van Moses wat mans en vroue in sulke gevalle ter dood veroordeel, volgens Levitikus 20:10 en Deuteronomium 22:22-24?
Jesus antwoord nie. Hy kies om eerder in die sand te skryf. Wat skryf Hy? Ons weet nie. Dalk wil Jesus op simboliese wyse illustreer dat hierdie dodelike verstaan van die wet vervang moet word met sy genadige sandskrif. Dalk wil Hy hierdeur wys dat God se ware wet deurdrenk is met genade.
As die godsdienstiges op 'n antwoord van Jesus aandring, daag Hy hulle uit om die klipgooiery te inisieer. Maar daar's 'n voorwaarde: Iemand sonder sonde moet die steniging inlei. Niemand sien kans hiervoor nie. Druipstert gee hulle almal pad.
Net die vrou en Jesus bly agter. In hierdie oomblikke spreek Jesus haar vry, met die opdrag om nie meer te sondig nie. Agter die doodlyn gaan haal Jesus haar. Van 'n gewisse klippedood vrywaar Hy haar. Nuwe lewe skenk Hy haar, een waar 'n harde godsdienstige stelsel se dodelike(!) oplossing vir sonde met genade getroef word.
Uit die Woord
Jesus het toe regop gekom en vir haar gevra: "Vrou, waar is hulle? Het niemand jou veroordeel nie?" Sy antwoord: "Niemand nie, meneer." Jesus sê toe: "Ek veroordeel jou ook nie. Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie." - Johannes 8:10-12






















