Onlangs sê iemand my verassing is ’n oortreding van die sesde gebod, wat sê jy mag nie moord pleeg nie. Dadelik het ek haar gevra of mens nou nie eens meer in vrede kan sterf nie, want dalk veras jou familie jou en dan pleeg hulle nadoodse moord. Wat nog te sê as jy self voor jou dood daarop besluit het.
In die Ou Testamentiese tyd het sekere volke soms hul dooies verbrand as deel van bepaalde godsdienstige rituele. Sulke praktyke was verbode vir God se volk.
Die Fariseërs was ook gekant teen die verbranding van liggame. Hul veronderstelling was egter dat God nie sulke mense kan opwek op die laaste dag nie omdat hul beendere daarmee heen was. Dis hoekom hulle ook skepties was oor die seevaarder-beroep. As jy op see sterf, eet die visse jou beendere op. Dan kan jy blykbaar nie opgewek word op die laaste dag nie.
In Openbaring 20:11-15 word hierdie idee helder en duidelik weerlê as ons lees dat die doderyk en die see die dooies teruggee wat in hulle is op die dag van die wederkoms.
God is glad nie afhanklik van enige nadoodse liggaamlike oorblyfsels nie. Ons liggaam vergaan nadoods. Ons innerlike mens leef egter voort by God.
Ons as gelowiges kom dan ook tot rus by God, soos wat Openbaring 16 sê. Daar wag egter ’n splinternuwe liggaam op ons by die wederkoms, aldus 1 Korintiërs 15. Om verassing dus tot ’n tipe moord te verhef, is sommer net geestelike rusverstoring.
Uit die Woord
En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.” – 1 Korintiërs 15:54












