Stephan Joubert: Vertrou God met nuwe begeertes

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Illustrasie deur middel van Toqan KI
Illustrasie deur middel van Toqan KI

Of ons dit wil weet of nie, ons begeertes beïnvloed ons ganse lewe. Ons diepste begeertes rig ons wil, ons emosies, ons keuses en ons gedrag.

Nie alle begeertes is dieselfde nie. Sommige is irrasioneel en ander is rasioneel. Sommige is immoreel en ander is moreel.

Tereg het Aristoteles (384-322 v.C.) dan ook verskillende begeertes geïdentifiseer wat ons gedrag bepaal, soos plesiergedrewe begeertes, wraakgedrewe begeertes, asook daardie begeertes na die goeie.

Ons begeertes word in die Bybel met ons hart verbind. Die Bybel weet ons hart wil hê wat dit wil hê! Ons hart se begeertes is dikwels onbetroubaar. Daarom moet ons voortdurend by ons hartsbegeertes ingryp. Ons moet dit met die Here se koersaanduiders laat strook.

Ons selfsugtige begeertes moet plek maak vir 'n liefdevolle gerigtheid op God en ander. Anders gesê, ons moet sy Gees met ons diepste begeertes vertrou. Dit is Hy wat 'n nuwe hunkering na God in ons hart plaas. Hy maak dat die grootste begeerte van ons hart is om God lief te hê met ons hele verstand en al ons kragte . . . en ons naaste soos onsself.

Hy bring ons begeertes graag in pas met die goedheid en guns van die Here.

Uit die Woord

Maar julle, geliefdes, onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus reeds vroeër gesê het. Hulle woorde aan julle was: "In die laaste tyd sal daar spotters wees wat hulle eie drange na goddelose dinge uitleef." Dit is hierdie mense wat skeuring bring; hulle is gerig op die aardse dinge; hulle het nie die Gees nie.

Maar julle moet, geliefdes, deur julleself op te bou in julle allerheiligste geloof, en deur in die Heilige Gees te bid, julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus, met die oog op die ewige lewe, verwag. - Judas vers 17-21

SPELETJIES VANDAG

CTA