Iemand vertel van hul dogtertjie wat gevra het of gesprek 'n soort kos is. Sy wou toe weet hoe voer jy iemand daarmee. Toe hulle frons, vertel sy 'n oom wat by hulle gekuier het, het vir Pappa gesê hulle moet gesprek voer. Maar sy self is nog nooit met sulke soort kos gevoer nie.
By elke universiteit waar ek al betrokke was, en regdeur die kerk, is hierdie dis altyd op die tafel. Mense moet gesprek voer. Dis die groot oplossing vir alles.
Dit het my al laat wonder of gesprekvoering 'n grootmensding is. Volwassenes wil altyd gesprek voer, terwyl jonges die lewe wil ontdek.
Nou ja, ons moet met mekaar praat. Ons sou selfs 'n saak kon uitmaak dat dit tuishoort tot die hartklop van geloof.
Maar gesprek kan ook manipulerend wees. Gespreksleiers en vraagstellers kan gesprekke openlik of subtiel stuur soos wat hulle wil.
Gesprek is reg as dit die waarheid dien en mekaar opbou. Gesprek is reg as dit die Here se vergifnis en genade in enige verhouding innooi en as dit brûe bou.
So nie is gesprekvoering se voedingswaarde nie te hoog nie
In alle harde werk is daar voordeel, maar 'n blote gepraat lei net tot gebrek. - Spreuke 14:23




















