Psalm 25 word met Dawid verbind. Te midde van sy eie pleitroepe om hemelse hulp (vers 1-2), wag hy getrou op die Here (vers 3). Hy bid dat die Here sy onderwyser sal wees (vers 4-5). God se waarheid moet Dawid leer hoe om op die regte pad te leef.
In vers 6-7 verskuif Dawid se gebed na God se manier van onthou. Eers vra hy die Here om te onthou hoe goed Hy self as God is. Met name moet die Here onthou dat Hy van altyd af getrou en jammerhartig is.
Wanneer dit egter oor Dawid self gaan, bid hy vir vergeetagtigheid aan God se kant. Hy vra die Here om nooit weer terug te dink aan die verkeerde dinge wat hy gedoen het toe hy jonk was nie. Wanneer die Here aan Dawid dink, moet Hy dit doen vanuit sy karakter as die God van goedheid en troue liefde.
Wat 'n gebed! Dawid vra van die Here om in karakter te bly wanneer Hy aan hom dink. Hy moet Dawid raaksien en onthou vanuit sy eie hart. Kom ons bid dit agterna. Kom ons vra die Here om ons ook so te onthou.
Uit die Woord
Dink aan u barmhartigheid en u troue liefde, Here, want dit is van altyd af daar. Aan die sondes van my jeug en my oortredings moet U nie dink nie; dink aan my in u troue liefde, omdat U goed is, Here. - Psalm 25:7





















