Sielsdinge

Stephan Joubert: Vrygewigheid gebeur voltyds

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Pixabay
Foto: Pixabay

My liewe ouers het een keer per maand 'n bydrae vir die kerk gegee. Daarna was ons vir die res van die maand gevrywaar teen enige vorm van vrygewigheid. As iemand iets by ons wou hê, was my ma se eenlyn-antwoord: "Ons gee by die kerk."

Só het ek geleer weggee word geskeduleer . . . totdat ek in die Bybel vasgeloop het. Sedertdien wonder ek: Hoekom is dit vir mense so swaar om vrygewig te leef? Dit voel dikwels asof baie dink hulle doen minderbevoorregtes 'n guns waarvoor dié mense moet dankbaar wees. Dit moes andersom gewees het. Weggee en vrygewigheid is immers die hartklop van Jesus. Om te sê ons ken Hom en volg Hom is om sy vrygewige hart te ken en om sy vrygewige voorbeeld agterna te leef.

Vrygewigheid begin wanneer ons onsself aan die Here gee. Daarna deel ons ons tyd, ons gawes, ons hulp, ons rande en ons sente met ander. Ons skeduleer vrygewigheid nie en dan is dit oor en verby totdat ons later weer in 'n weggeebui is nie. Oral waar ons in Jesus vasloop, is ons vrygewig. Ons weet immers Hy vermom Homself dikwels as mense in nood.

Nee, ons is nie onverantwoordelik vrygewig nie. Ons weet daar's baie "professionele" armes wat mense uitbuit. Mag hulle nooit die rede wees hoekom ons onsself probeer wysmaak ons kan nie weggee nie. Mag ons eie tekorte of armoede nooit as verskoning dien om ons teen vrygewigheid te vrywaar nie. Ryk of arm - ons het altyd iets om te gee. Ons gee onsself, net soos Jesus.

Uit die Woord

Daar is iemand wat uitdeel, en hy verkry steeds meer, en een wat meer as wat nodig is, terughou - net om gebrek te ly. 'n Gulhartige persoon geniet oorvloed, en wie 'n ander se dors les, kry self ook genoeg te drinke. - Spreuke 11:24-25

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM