Dis hartverskeurend as jou huis, jou buurt en jou stad deur vlamme verwoes word. Dit het Los Angeles onlangs oorgekom. Nie eens die magtigste land ter wêreld is gevrywaar teen sulke natuurrampe nie. Nog altyd was daar sulke vernietigende rampe in die wêreld. Ons weet byvoorbeeld van 'n epidemie (waterpokkies?) wat in 165 n.C. uitgebreek het wat bykans 'n kwart van die wêreldbevolking uitgewis het.
In 251 n.C. het nog 'n epidemie (masels?) ewe groot vernietiging gesaai. Ook was daar reuse-aardbewings wat baie Romeinse stede onbewoonbaar gemaak het.
Ons wêreld gaan nog altyd gebuk onder lyding. Die ganse skepping sug en ly. Ons ook.
Romeine 8:22-23 sê: "Ons weet dat die hele skepping op die oomblik nog baie swaarkry. Sy steun en kreun kliphard soos 'n vrou wat geboortepyne beleef. Wag, dit is nie net die skepping wat swaarkry nie; dieselfde gebeur met ons. Al het ons 'n eerste voorsmaak van God se goedheid geproe omdat die Gees in ons is, sug en kreun ons kliphard hier in ons binneste. Ons sien opgewonde uit na daardie dag wanneer God voor almal sal wys dat Hy ons as sy kinders aangeneem het" (NNT).
Uit die Woord
Indien ons hoop slegs vir hierdie lewe op Christus gevestig is, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. - 1 Korinthiërs 15:19





















