Antieke godsdienste se verhale speel in bo-aardse mitologiese wêrelde af. God verkies egter die geskiedenis om Homself bekend te maak. Dit gebeur ook in Daniël 5 wanneer die hand teen die muur skryf terwyl koning Belsasar (556-539 v.C.) 'n dronkpartytjie hou. Hy het saam met sy pa, Nabonidus, oor die Babiloniese Ryk geheers. Op die vooraand van sy dood raak Belsasar en 'n duisend amptenare dronk uit goue en silwer bekers wat buitgemaak is uit Jerusalem se tempel. Bykans 50 jaar vantevore het Jeremia gesê God sal hierdie bekers op die bestemde tyd na Jerusalem terugbring (Jeremia 27:16-22). Dit gebeur kort hierna as Esra 1:7-11 berig 4 500 stukke goud en silwer is teruggestuur nadat die Persiese Ryk aan die bewind gekom het.
Daniël 5 speel in hierdie onstuimige geskiedenis af wanneer Daniël ingeroep word om die Aramese skrif teen die muur te interpreteer. Tussen Daniël 4 en Daniël 5 het meer as 20 jaar reeds verloop, maar die koningin het 'n goeie geheue gehad. Sy het onthou van Daniël in wie die gees van die heilige gode is, soos wat sy dit noem. Daniël se wysheid, skranderheid en insig was sonder weerga. Wat 'n getuienis van 'n Geesvervulde wat stroomop geleef het in Babilon. Tussen al die sterrekykers, towenaars en waarsêers was Daniël jare lank die getroue verteenwoordiger van die lewende God. Toe God dus daardie aand op sy knoppie druk, was Daniël outomaties aan diens.
Kom ons leer by hom dat getrouheid aan die Here 'n lewenslange roete is. Kom ons leer ook dat Geesvervuldheid 'n lewenslange werklikheid op enige plek op aarde is. Kom ons omraam ons eie lewensverhaal met dieselfde Geesvervuldheid en getrouheid aan God.
Uit die Woord
Mag die God van hoop julle vervul met alle blydskap en vrede in die geloof, sodat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees. - Romeine 15:13





















