"Wie is ek om te oordeel?" Wanneer dit sommige mense pas, speel hulle hierdie geen-oordeel-kaart.
Beteken dié geen-oordeel-vrywaringsbeleid dan dat hulle aan die res 'n vry hand gee om te doen wat hulle wil? Geld dit byvoorbeeld as hulle weet van kinders of huweliksmaats wat emosioneel geteister word? Of wanneer iemand vulgêr en rassisties is? Moet ander se sondes en foute blindelings geïgnoreer word aan die hand van hierdie geen-oordeel-vrywaringsbeleid?
Wat het Jesus regtig bedoel toe Hy in Mattheus 7:1 gesê het ons mag nie oordeel nie? Wel, Hy verduidelik dit self in Mattheus 7:2-5 as Hy sê ons moenie die splinter in ander se oë raaksien terwyl daar nog 'n houtbalk in ons eie oog vassteek nie. Bedoelende, ons moet eers ons hart ondersoek sodat ons op die regte maniere kan kyk. Ons moet eers ons eie oogbalk verwyder, anders is ons die probleem.
Anders misbruik ons daardie geen-oordeel-kaart om onsself te verontskuldig net wanneer dit ons pas. Jesus roep ons op om ons eie oog in orde te kry omdat ons ander mense ook moet bystaan om hul oogsplinters uit te sorteer.
Uit die Woord
"Haal eers die balk uit jou eie oog, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal."- Mattheus 7:5
Maak jou mond oop vir die stemlose, vir die regsaak van almal wat wegkwyn. Maak jou mond oop, oordeel regverdig en handhaaf die reg van die magtelose en behoeftige. - Spreuke 31:8-9





















