Sielsdinge

Stephan Joubert: Wie is goed genoeg?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Pixabay
Foto: Pixabay

Wie kwalifiseer? Wie maak die afsnypunt? Wie is goed genoeg? Orals in die lewe geld hierdie vraag. Psalm 15:1 vra dit ook. Dit vra naamlik: Wie kwalifiseer om in die woonplek van die Here in te gaan en om op sy heilige berg te vertoef? Is dit diegene wat die meeste bid? Of wat die vroomste gebruike navolg? Toe nie!

Vers 2-5 bied 'n verrassende antwoord op dié vraag. Diegene wat dit tot digby die Here kan waag, is hulle wat volgens sy voorskrifte leef. Hulle doen wat reg is voor Hom. Hulle is eerlik. Hulle praat nie kwaad nie. Hulle doen ook nie kwaad nie. Hulle beledig niemand nie. Hulle klap nooit vir sondaars hande nie. Hulle eer die Here se mense. Ook doen hulle hul woord gestand. Boonop is hulle nie geldgierig nie, en hulle aanvaar nooit omkoopgeld nie.

Dus, kwalifiseer jý? Geseënd is jy as jy hierop kan ja sê. Indien nie - daar's nog uitdunrondes oor. Daar's nog plek oor in die Here se woonplek. Doen wat Hy sê, dan is jy spoedig tuis in sy huis. - Stephan Joubert

Here, wie mag 'n gas wees in u tent? Wie mag tuisgaan op u heilige berg? Hy wat onberispelik leef en regverdig optree, wat van harte die waarheid praat. Hy laster nie, doen sy medemens nie kwaad aan nie en bespot nie sy naaste nie. Hy wat hierdie dinge doen, sal nooit struikel nie. - Psalm 15:1-3 en 5

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM