Stephan Joubert: Word beter ouer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Pixabay
Foto: Pixabay

Solon van Athene (635-560 v.C.) het die lewe verdeel in 10 seisoene van sewe jaar elk.

Pseudo-Hippokrates (wie se geskrifte by dié van die bekende Hippokrates ingesluit is) doen dieselfde. Volgens hom strek mans se lewensloop van geboorte tot 'n sewejarige kleuter (paidion in Grieks). Daarna volg dié van 'n kind (pais) tot 14 jaar. Dan dié van 'n seun (meirakion) tot 21 jaar. Daarna 'n jong man (neaniskos) tot 28 jaar. Dan 'n man (aner) vir drie sewejaartydperke tot 49 jaar. Dan 'n ouer man (presbutes) tot 56 jaar, en daarna 'n ou man (geron).

Op soortgelyke wyse stel Handelinge 7:58 ons bekend aan Paulus as 'n anti-kerklike jong man (neanias) tydens Stefanus se steniging. Kort daarna het Paulus hom trompop in Christus vasgeloop. Jare later, wanneer Paulus as vervolgde gelowige uit die tronk aan Filemon skryf, noem hy homself 'n ouer man (presbutes - vers 9). Van 'n jong vervolger van die kerk het Paulus gegroei tot 'n wyse ouer man wat vervul is met die Gees van God.

Kom ons raak ook beter en meer Geesvervuld soos wat ons vanjaar 'n stukkie ouer word.

Uit die Woord

Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in kennis en insig, om die dinge wat saak maak, te kan onderskei, sodat julle, met die oog op die dag van Christus, innerlik suiwer en onberispelik kan wees, gevul met die vrug van geregtigheid deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God. - Filippense 1:9-11

SPELETJIES VANDAG

CTA