Onlangs sê 'n kenner van digitaliteit en sosiale media in 'n TV-onderhoud dat dit soos vuurwapens is. Jy behoort eintlik 'n lisensie daarvoor te hê nadat jy die nodige bewyse gelewer het dat jy dit reg kan gebruik.
Digitaliteit stel ons bloot aan wêrelde en werklikhede waarvoor ons dikwels nie emosioneel gereed is nie. Met die druk van 'n knoppie kan mense vandag toegang tot enigiets kry, goed of sleg, wat hul hart begeer - flieks, kunsmatige seks, dobbeltafels, wetenskaplike ontdekkings en die jongste teologie. ChatGPT is reeds baie mense se eksterne brein wat namens hulle dink.
Digitaliteit en KI wat reg gebruik word, is 'n seën. Dit stel ons in staat om nuwe kennis te ontgin en te gebruik op verskillende gebiede.
Te midde van hierdie nuwe werklikhede benodig ons egter een lewensbelangrike anker: wysheid. Wysheid kom nooit met gratis komplimente van digitaliteit nie. Anders gesê, ons nuwe wêreld is nie wysheid-aangedrewe nie. Ons as gelowiges bekom wysheid aan die Heer se voete. Deur getrouheid aan Hom, en deur die daaglikse nastreef van sy wysheid, vind dit neerslag in ons lewe. Sy nabyheid maak ons eg en deursigtig. Hy laat ons Gees-vervuld leef, nie masjien-gevormd nie.
Uit die Woord
Om wysheid te verkry is beter as goud, en om verstandigheid te verkry is verkiesliker as silwer. - Spreuke 16:16





















