Wanneer ek uit die kar se kokon van warmte klim om 'n foto te neem van die grondpad wat bergaf tot op Matatiele kronkel, vang die ysigheid my onkant. Jy sien nie 'n spikkel sneeu, 'n poeletjie ys of 'n enkele wolk in die lug nie, maar die koue laat jou ore pyn en jou vingers krom trek.
Ek klim weer agter die stuur in en ry verder bergop na die Qachasnek-grenspos. In 'n stadium is die pad só steil jy sien net blou lug bo die Mahindra se neus. "Dit voel amper asof ons in die lug in ry!" sê my verloofde, Sam.
"Lesotho staan juis bekend as ‘the Kingdom in the Sky!'" sê ek laggend. Daar was 'n tyd dat jy in die wintermaande Lesotho net in 'n 4x4 behoorlik kon verken, maar danksy 'n goeie teerpadnetwerk kan jy nou al die land se hoogtepunte in jou dorpskar bereik.
Van Qachasnek af kan jy 'n 192 m hoë waterval, die Katsedam, dinosourusvoetspore, 'n nasionale park, 'n ski-oord en 'n string hemelhoë bergpasse binne 'n week besoek. En as jou tysberekening reg is, bou jy 'n sneeuman ook!

Langs die Senqu
Dis grondpad tussen Matatiele en die Qachasnek-grenspos, maar heelpad teerpad met die A4 en A5 anderkant die grens tot op Semonkong.
Jy kry gou bewondering vir die ingenieurs van dié paaie, want die teer kronkel heen en weer teen berghange af tot in diep valleie voordat dit weer teen die steiltes aan die ander kant uitklouter.
Jy leer ook gou dat jy veel stadiger reis in Lesotho as in Suid-Afrika, want reguit paaie of gelyke oppervlakke is skaars. Hier is die berge só hoog hulle skaaf aan die wolke se pense en die paaie stoei teen dié steiltes uit.
Buitendien moet jy wakker wees vir donkies, bokke en hoenders wat hulle min steur aan verkeer. én op die uitkyk wees vir Lesotho-handbrieke: Klippe wat agter sukkelende motors se wiele gepak word en dan net gelos word wanneer hulle later weg-trek. Hier kan jy maar jou gewone reistyd oor 'n gegewe afstand verdubbel.
Vir 'n ruk loop die A4 al langs die Senqu-rivier. Hierdie waters sorg vir pragtige foto's in die Augrabies-waterval- nasionale park en luilekker kanotoere in die Richtersveld, want sodra die Senqu oor die Suid-Afrikaanse grens vloei, word dit die Gariep genoem.
By Seforong draai jy af en ry met die A5 vir 52 km tot op Semonkong. 'n Ongelyke stukkie grondpad neem jou tot by die Semonkong Lodge op die westelike rand van die dorp.
Rook trek uit die skoorstene van die rondawels by die Semonkong Lodge op die oewer van die Maletsunyane-rivier. Veewagters in balaklawas en gum boots jaag 'n spul bokke met klokke om hulle nekke teen 'n bult op.
Onder by die rivier gooi 'n groep kinders klippies in die water. Later, ná aandete, slaan die dorp se krag skielik af en 'n stilte daal saam met die koue oor Lesotho neer.

Van waterval tot damwal
"Wanneer hier baie water afstroom, kan jy nie die poel sien nie, net die sproei wat soos rook lyk," vertel Ernest Lekholo Phooko die volgende oggend terwyl ons in 'n diep kloof afklouter na die Maletsunyane-waterval. "Dis waarom die Basotho hierdie "die plek van rook" noem. Ernest is 'n stapgids by die Semonkong Lodge.

As jy fiks genoeg voel, kan jy saam met hom na die poel toe stap. "Jy kan ook langs die waterval af abseil," vertel hy en wys na die linkerkant van die val. Twee piepklein figure lyk asof hulle aan 'n garingdraadjie teen die krans hang.
Die waterval tuimel met mening in die donker poel in. Die watersproei omsingel 'n mens, en ek moet my kamera onder my reënbaadjie wegsteek tussen foto's neem.
Kort voor lank is ons koud en nat en draai terug om weer teen die ravyn uit te klim. Aan die bokant is my bobene moeg en my asem kort weens die hoogte bo seespieël.
In die namiddag stap ons 'n draai deur Semonkong se strate en dan al langs die Maletsunyane-rivier terug lodge toe. Daar mik ons dadelik na die kaggel in die Duck & Donkey Tavern.
Twee Maluti-biere, asseblief!
Ons vertrek douvoordag. Al is dit net 290 km tot by die Katsedam, laat die kronkelpaaie 'n mens nie toe om meer as 60 km/h te ry nie. Ons is net-net betyds vir die damtoer om 2 nm. Katsedam is in 1996 voltooi om water aan Suid-Afrika en hidro-elektrisiteit aan Lesotho te verskaf.
'n Gids lei jou na die voet van die damwal. 'n Mens kan nie ophou staar na die 185 m hoë betonmuur nie. Die damwal is dubbel gekrom en van hier af sien jy mooi hoe dit van bo na onder én van links na regs buig.
Binne-in die damwal se tonnels ruik dit klam en drukkend. Dié mure is 60 m breed - dis omtrent 80 treë! Tog kan 'n mens nie help om senuweeagtig te voel oor die hengse watermassa anderkant die muur nie.
Toe ons later bo-op die muur staan, loer ek oor die rand na die water wat 45 km ver in die vallei teruggedruk word.
Verken die Katsedam
Daar is twee damtoere elke dag: Weeksdae: 9 vm. en 2 nm. Naweke en vakansiedae: 9 vm.,11 vm en 2 nm.
Koste R30 p.p.; lhda.org.ls; 00 266 229 10808/9
Van die damwal af swenk die A25 vir 'n ruk tussen die berge in voordat dit 33 km later die dam kruis. Jy ry nou al langs die westelike oewer van die dam tot op die dorp Lejone.
Dis laatmiddag wanneer ons by ons volgende slaapplek, Motebong Lodge, aankom. Dieselfde plek waar die konstruksiewerkers, wat in die jare negentig die hoofwateroorvoertonnel gebou het, hulle hardehoed vir die nag afgehaal het.
Vanoggend ry ons noord met die A25 bergop oor die 3 090 m hoë Mafika Lisiupas.
Bo-op die berg is die piepklein Bokong-natuurreservaat. Hier is 'n handjievol selfsorghuisies en 'n besoekersentrum, maar dis nie te sê dis oop nie... Dis my derde besoek aan Bokong.
Dit was albei vorige kere toe, maar die hoop beskaam nie! Sug, dis weer toe. En nes die vorige twee kere vertel 'n sekerheidswag dat daar planne is vir die opgradering van die geboue en dat die reservaat binnekort weer oop sal wees. Jy kan nietemin 'n bietjie rondstap en ek gaan neem 'n foto van die besonderse uitsig voor die besoekersentrum.
Die geboue klou aan die kranse van 'n diep vallei en wanneer dit soos vandag met sneeu bedek is, verbeel jy jou skoon jy is iewers in die Alpe. Bokong word immers as een van die hoogste natuurreservate in Afrika beskou.
Namate die A25 oos kronkel, daal jy na Lesotho se "laeveld" en die landskap bedaar effe hier in die voetheuwels van die berge. Van hier af is dit 33 km tot by die Maliba Lodge in die Ts'ehlanyane- nasionale park.
Teen 56 km² is dit Lesotho se grootste natuurreservaat - en dis oop en beman. Ons slaap twee aande hier en stap die veld plat met musse en dik baadjies.
Die lug is blou en die son skyn, en die bergpieke bo die Hlotse-vallei is wit van die sneeu. Ons soek 'n waterval aan die bopunt van 'n vallei, maar kry net 'n dun stroompie water met bevrore waterpoele aan die onderkant.
Later, terug by die lodge, gaan soek ons ouder gewoonte 'n kaggel en 'n Maluti om te ontdooi.

Die pad net onder die hemel
Die A25 loop dood by Ts'ehlanyane en jy moet weer terug na die A1 ry om Butha Buthe te bereik. Anderkant die dorp klim die pad weer met mening hooglande toe in die rigting van die Motengpas. Aan die voet van dié pas draai ons af vir 'n besoek aan die Liphofung-grot (R50 p.p).
Dis 'n kort stappie van die besoekersentrum af na die grot, oftewel bakkrans, waar jy kyk na eeue oue rotstekeninge. Teen 'n krans gewaar ek 'n hamerkop se deurmekaar nes en klipmure van 'n kamp wat koning Mosjoesjoe gebou het.
Ek druk die Mahindra se neus weer die lug in teen die Motengpas uit.
'n Ent anderkant die pas se kruin ry jy verby 'n breë wit strook teen die berg. Dis die kunsmatige ski-helling van die Afriski-oord. Afriski laat dagbesoekers toe, maar as jy behoorlik wil ski, raak dit nogal 'n duur storie, want binne seisoen moet 'n mens vir twee of meer aande bespreek en sneeupasse koop. En dan is die diens en geriewe maar so-so.

Maar dis die enigste plek in Suider-Afrika waar 'n mens kan ski... Ons loer dus net in vir middagete by die Sky Restaurant en kyk hoe die skiërs oor die sneeu rits. Tussen Afriski en Sanipas lê Suider-Afrika se hoogste paaie, insluitend die Tlaeng- (3 251 m) en die Black Mountain-pas (3 244 m).
Hou stil en neem 'n foto van die bordjie op die kruin van die Tlaengpas. Omdat dié pas heeltemal bo-op die berg lê (die pas klim maar net sowat 140 m) is die uitsig nie juis watwonders nie... maar hier staan jy nou bitterhoog!
Wie sou kon dink dat jy tot hier kan ry met jou plat kar? Langs hierdie stuk pad is jou kanse die beste om sneeu in die winter te kry, maak dus seker jy trek iewers af en bou 'n sneeuman. Die teerpad loop sowat 130 km later summier by die Sanipas-grenspos dood.

Voor die Sani Mountain Escape se geboue staan 'n paar 4x4's met Suid-Afrikaanse nommerplate. In die kroeg bedien die kelner Joseph Rabots'o 'n groep toeriste. Hier's baie dag-besoekers wat die pas uit Suid-Afrika ry.
Die pas is ons nie vandag beskore nie, want jy mag dit net met 'n 4x4 aandurf. Daar is al jare lank sprake dat die pas geteer gaan word en ek vra Joseph daaroor uit.
"Ek dink nie dit sal ooit geteer word nie, want die 8 km tussen die grensposte lê in 'n niemandsland," sê hy. "En selfs al teer hulle dit, sal jy dit nie in die winter kan ry nie, want dit sal geys wees."
Ek en Sam stap na die krans voor die lodge en loer oor die afgrond na waar die Sanipas teen die Drakensberg afkronkel tot doer onder in KwaZulu-Natal.

Dis duidelik hoekom Lesotho die bergkoningkryk, die dak van Afrika én die Kingdom of the Sky genoem word.
Môre ry ons weer terug met die passe waar dit voel asof jou voertuig se dak onderdeur die wolke se mae sleep - binne net vier uur gaan ons deur die Caledonspoort-grenspos tot in Suid-Afrika ry.
Die reis verby.
Maar vir nou draai ons om en stap terug na die warmte van die kroeg. Doer ver klingel die klokke van 'n trop bokke wat iewers diep in die berge agter 'n herder in gum boots aan loop.
Weet voor jy waai
By die grens Suid-Afrikaners het nie 'n visum nodig nie, maar jy moet 'n geldige paspoort en jou voertuig se registrasiepapiere saambring.
Jou voertuig Solank jy op die teerpaaie bly, sal jy met 'n sedan regkom. 'n Voertuig met hoë grondvryhoogte is wel aan te bevole vir die stukke grondpad tussen die teerpaaie en van die blyplekke (soos tussen Semonkong Lodge en die dorp, of die oprit na Sani Mountain Escape). Jy sal wel met jou sedan by al die blyplekke kan uitkom.
Wanneer om te gaan Lesotho se teerpaaie maak die land heel jaar toeganklik. Winters is droog en koud en dit sneeu gereeld. Dit reën in die somer en gereelde donderstorms laat die berglandskap lowergroen, maar maak ook die toestande op die paaie (veral grondpaaie!) meer uitdagend.
Kos en brandstof Daar is net betroubare vulstasies op die groter dorpe - maak dus elke keer jou tenk vol. Dieselfde geld inkopies, want in die platteland gaan jy net klein winkels kry.
Geld Lesotho se geldeenheid, die loti, is aan die randwaarde gekoppel. Blyplekke en van die groter winkels het kaartgeriewe. By die kleiner plekke kan jy in rande betaal, maar jy gaan loti-kleingeld ontvang.
Bly hier

Semonkong Lodge
Op die oewer van die Maletsunyane-rivier staan 23 en suite-rondawels met 'n dubbelbed en kaggel. Twee groter rondawels het stapelbeddens en 'n gemeenskaplike kombuis. Hier's ook 'n klein kampplek (plek vir 3 voertuie) op die oewer met gemeenskaplike ablusies en 'n restaurant.
Bring ten minste 'n volle dag in Semonkong deur: Stap tot by die Maletsunyane-waterval of abseil teen die kranse af, gaan op 'n dorptoer of woon 'n praatjie oor Basotho-komberse by. Of hoe klink 'n pub crawl op 'n donkie?
Kontak 00 266 6202 1021; semonkonglodge.com

Motebong Lodge
Die oord in die dorpie Lejone was die blyplek vir konstruksiewerkers wat die Katsedam gebou het, en dit voel steeds soos 'n woonbuurt. Bly in een van 26 selfsorghuise (verskeie groottes, slaapplek vir 2 tot 7 mense) of een van die 17 enkelkamers (geen selfsorg). Hier is ook 'n restaurant en 'n kroeg.
Kontak 00 266 5974 4567; motebong.com

Maliba Lodge
In die Ts'ehlanyane- nasionale park staan die land se enigste stukkie inheemse woud, 'n unieke fynbos, kolle bergbamboes (die naam Ts'ehlanyane kom van 'n plaaslike woord vir dié bamboes) én die land se enigste vyfsterlodge.
Ses luukse chalets naby die lodge het 'n uitsig oor die Hlotsevallei, maar jy kan ook in 'n basiese dubbelkamer, 'n rondawel of 'n selfsorghuis bly. Let wel, die rondawels is in die winter weens die koue gesluit. Hier is verskeie staproetes na watervalle en riviere met swempoele.
Kontak 031 702 8791; maliba-lodge.com
Bird Haven Guesthouse
Hierdie gastehuis op Hlotse is 'n gawe oorslaapplek naby die Ficksburg- en Caledonspoort-grenspos. Hier is tien rondawels (dubbel, twee of drie beddens), veilige parkeerplek en 'n restaurant wat aandete en ontbyt bedien.
Kontak 00 266 5954 3030; birdhavenleribe.com
Mants'ebo Guest House
Slaap in een van 13 en suite-dubbelkamers op Mokhotlong, sowat 'n uur se ry van die bokant van Sanipas af. Die kamers is verhit en jy het veilige parkeerplek.
Kontak 00 266 5813 4804; mantseboguesthouse@gmail.com

Sani Mountani Escape
Drink 'n bier in die hoogste kroeg in Afrika, stap saam met 'n gids na Lesotho se hoogste bergpiek - Thabana Ntlenyana (13 km, 8 ure) - of beloer die Sanipas van bo af. Bly in een van agt en suite-rondawels (2 tot 6 mense) met 'n kaggel. Die backpackers het slaapplek vir 22 mense in kamers met 4 of 6 beddens elk en 'n gemeenskaplike kombuis en kuierplek.
Kontak 078 634 7496; 00 266 5736 2101 (Lesotho); sanimountain.co.za
Resthaven Guesthouse
Hierdie gastehuis op Matatiele is die ideale oorslaapplek voor jy Lesotho invaar. Slaap in een van 22 en suite-dubbelkamers met lugversorging, DStv en Wi-Fi. Gesels met die eienaar en 4x4-boffin Philip Rawlins oor die beste roetes en vlieghengelplekke in die gebied.
Kontak 039 737 4067; resthaven.co.za

Nie net 'n kombers
Het jy geweet dat die helder komberse wat 'n mens oral in Lesotho sien, nie net 'n praktiese kledingstuk is nie, maar ook 'n kulturele item is vir die Basotho?
Maak 'n draai by ‘Masetho Elizabeth Letsie op Semonkong en sy sal jou vertel hoe mans en vroue die komberse verskillend dra, dat elke element van die ontwerp ‘n betekenis het, hoe die koningshuis ontwerpe moet goedkeur en wat die verskil tussen goedkoop en fênsie komberse is.
Koop jy sommer een vir jouself! Bespreek by die Semonkong Lodge of kontak Elizabeth op WhatsApp 00 266 5373 9716 of The Blanket Presentation op Facebook. Dit kos R110 p.p.
Reiswenk
Die meeste van die A-paaie (en sommige B-paaie) in Lesotho is teerpaaie, maar nie almal nie. Kyk fyn wanneer jy jou roete beplan en gebruik Google Maps se Satellite View as jy onseker is.
Op Google Maps lyk dit byvoorbeeld asof die A1 tussen Mokhotlong en Thaba-Tseka geteer is, maar dié gedeelte is grondpad en die toestand is dikwels so sleg dit neem 4 tot 5 ure om die 100 km af te lê.
Sodra jy van die hoofroetes tussen die stede afwyk, is dit net grondpaaie.
Wat sê die mense?

Joseph Rabots'o, Kelner en stapgids, Sani Mountain Escape
"Jy kan nie die sneeu voorspel nie, hier verander die weer binne minute en jy kan vier seisoene op 'n dag kry. Soms kan jy wag en dit sal sneeu, ander kere sneeu dit sodra jy hier wegry!"

Liteboho Moqhetsooa, Ontvangs, Maliba Lodge
"As jy sneeu kom soek, mik vir die hooglande, die gebied rondom Mokhotlong in die noorde of selfs Qachasnek in die ooste.
"Ek het in Mokhotlong grootgeword. Toe ek ses was, het dit só dik gesneeu dat dit bo my kop gelê het en jy skaars by die huis se voordeur kon uitkom. Ons was dan baie bly, want ons hoef nie skool toe te gaan nie!"

Letuka Mika, Verkoopsagent, Hlotse
"Thaba Bosiu is beslis 'n besoek werd, dis die Lesotho-nasie se geboorteplek."





















