Die weer op verkiesingsdag

Dit lyk asof groot dele van die land effens kouer toestande en selfs reën kan verwag wanneer die Suid-Afrikaners Woensdag na die stembus gaan.

Foto ter illustrasie.
Foto ter illustrasie.

Die mooiweer en matige temperature van die afgelope naweek sal in sommige dele van die land voortduur, maar dit kan Dinsdag effens koeler word in die westelike en sentrale dele met 'n kouefront wat deur die land beweeg, sê Vanetia Phakula, 'n weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD).

Die kouefront verlaat die land weer Woensdag.

In die Noord-Kaap en oostelike dele van die Wes-Kaap word donderbuie verwag en dit sal Woensdag na die oostelike en suidelike dele van die Noord-Kaap, verre oostelike dele van die Wes-Kaap, westelike dele van Noordwes, die Vrystaat, die Oos-Kaap, asook na die heel suidelike dele van KwaZulu-Natal beweeg.

In die suidwestelike dele van die land sal die kouefront Woensdag vir die grootste deel van die dag koel en nat toestande veroorsaak.

In die Noord-Kaap, Wes-Kaap en Vrystaat is daar 'n 30%-kans op reën. In die Oos-Kaap verhoog die kanse tot 60%, sê Phakula.

Reën kan dalk ook in die suidelike dele van KwaZulu-Natal val.

Die Oos-Kaap, Wes-Kaap en die Noord-Kaap sal koel tot koud wees met temperature onder 20° C.

Plekke in die Noord-Kaap (veral die oostelike dele), westelike dele van Noordwes en die Vrystaat, asook die binneland van die Oos-Kaap kan sterk rukwinde op verkiesingsdag verwag. Mense wat Woensdag tydelike strukture oprig, word aangeraai om ekstra versigtig wees vir die wind.

Andersins sal dit mooiweer en warm wees in Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en Noordwes met temperature tussen 26° C en 33° C.

Slegte weer het 'n invloed op die stempersentasie, omdat mense nie sommer slegte weer gaan trotseer om by die stembusse uit te kom nie.

Theo Venter, 'n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê slegte weer het 'n invloed op die stempersentasie, omdat mense nie sommer slegte weer gaan trotseer om by die stembusse uit te kom nie.

"Ons het dit gesien met die plaaslike verkiesings in 2016 toe die weer baie sleg was. Die stempersentasie was 'n lae 56% en dit is ten dele toegeskryf aan die slegte weer," sê Venter.

Die weerpatrone gaan waarskynlik op die platteland en die afgeleë plekke 'n groter invloed hê as in die stedelike sentra, weens die infrastruktuur soos paaie, vervoer, skuiling en afdakke.

"Infrastruktuur in die stedelike en metropolitaanse gebiede is baie beter, dus het die weer nie so 'n groot invloed nie. Weens 'n gebrek aan infrastruktuur het die weer 'n groter invloed in die platteland," sê Venter.

Jan-Jan Joubert, 'n politieke ontleder, sê dit moet egter "taamlik strawwe" weer wees om die stempersentasie te beïnvloed.

Hy is dit eens dat kwaai reën die politieke partye benadeel wie se ondersteuners veral arm mense is.

"Die welvarender kiesers ry dikwels na die stempunt, dus pla die reën hulle nie so baie nie. Dit is baie erger as jy water uit jou huis moet skep of in die reën en deur die modder moet loop om by die stembus te kom."

Joubert verwys ook na 2016 se plaaslike verkiesings waar daar vroegoggend 'n wolkbreuk was in die Nelson Mandelabaai-gebied op verkiesingsdag.

"Van 07:00 tot 11:00 het die ANC se sterkste gebiede glad nie gestem nie, want hulle was besig om water uit hul huise uit te kry. Daardie agterstand van vier ure kon die ANC nooit inhaal nie."

Die weer op stemdag

Wes-Kaap

'n Kouefront sal na verwagting oor die suidwestelike kus van die Wes-Kaap beweeg, wat sal lei tot bewolkte en koelerige toestande met ligte reën oor die suidwestelike dele vir die grootste gedeelte van die dag. Ligte reën word ook langs die suidkus verwag en sal die Tuinroete vermoedelik die aand bereik. Daar is 'n moontlikheid vir geïsoleerde donderstorms vroegoggend oor Prins Albert en Beaufort-Wes. Die res van die provinsie sal in die namiddag gedeeltelik bewolk en koel toestande beleef met sterk binnelandse winde.

Oos-Kaap

Verspreide donderbuie word oor die grootste dele van die provinsie verwag. Sterk winde word verwag oor die westelike en sentrale dele van die provinsie voor die naderende kouefront.

Noord-Kaap

Winderig oor die binneland, andersins gedeeltelik bewolk met buie en donderbuie in die ooste en suide.

Vrystaat

Warm in die noorde, andersins sal dit gedeeltelik bewolk en warm oor die provinsie wees met donderbuie en sterk winde in die weste waar dit koel sal wees.

Noordwes

Gedeeltelik bewolk en warm met stormsterkwinde in die weste waar daar ook 'n aantal donderstorms sal voorkom.

KwaZulu-Natal

Mooiweer en warm oor die provinsie met stormsterkwinde oor die noordelike binneland. Daar is 'n moontlikheid vir geïsoleerde donderbuie in die suide gedurende die aand.

Gauteng

Mooiweer en warm.

Mpumalanga

Bewolk in die ooste aanvanklik met motreën langs die platorand, andersins sonnig en koel maar warm in die Laeveld.

Limpopo

Aanvanklik bewolk in die ooste, andersins mooiweer en warm.

Ischke de Jager

SPELETJIES VANDAG

CTA