Die Noord-Kaapse departement van veiligheidskakeling sê die polisie is gereed om enige gebeurlikheid te hanteer sodat Woensdag se verkiesing vreedsaam verloop.
Lebogang Motlhaping, LUR van vervoer en veiligheidskakeling, sê in 'n verklaring hulle sal verseker dat kiesers veilig en vry voel om hul kruisies te trek.
"Verkiesings is uiters belangrik omdat dit burgers die geleentheid gee om hul demokratiese reg uit te oefen. Kiesers kan die party van hul keuse ondersteun te midde van politieke verdraagsaamheid sonder dat hulle geïntimideer word."

Dit is volgens hom belangrik dat daar geen ontwrigting is nie. Verkiesingsbeamptes moet ook nie bedreig voel nie.
"Tot nou is geen ernstige voorvalle by ons aangemeld nie. Die wetstoepassingsagentskappe is oral ontplooi om te verseker dat die verkiesing vreedsaam geskied.
"Enige gemeenskappe wat ontevrede met dienslewering is, moet hul kwessies op 'n vreedsame wyse met die betrokke owerhede probeer oplos. Hulle moenie probleme met gewelddadige optrede probeer oplos nie."
Motlhaping sê hy het vertroue in lt.genl. Peter Shivuri, provinsiale kommissaris se veiligheidsplan.
"Die polisie se bedryfsplan is in werking gestel en dit sal verseker dat die verkiesing glad verloop. Hulle is slaggereed om op enige gebeurlikhede te reageer omdat hulle juis op moontlike brandpunte fokus."
















