Verkiesings 2019

Peiling: 37% weet nie vir wie om te stem

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: City Press
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: City Press

Meer as 'n derde (37%) van geregistreerde kiesers in Suid-Afrika is nog onseker oor vir wie om op 8 Mei te stem omdat geen politieke party in dié stadium hul standpunte verteenwoordig nie, toon die jongste Ipsos-peiling.

Met net meer as 'n week oor voor die algemene en die provinsiale verkiesing weet 45% van kiesers luidens dié peiling wel langs watter politieke party se naam hulle hul kruisies gaan trek.

Op 'n nagemaakte stembrief het 61% van die deelnemers aangedui dat hulle vir die ANC sou stem, 19% vir die DA en 11% vir die EFF. Dít as 71% van geregistreerde kiesers opdaag om te stem.

As 100% van alle geregistreerde kiesers sou stem, sou die ANC 56,92%, die DA 15,23% en die EFF 9,45% van die steun gekry het, luidens Ipsos.

Geregistreerde ANC-ondersteuners het ook aangedui dat 86% van hulle vertroue in die partyleier, pres. Cyril Ramaphosa, het.

Mmusi Maimane Foto: Daily Sun
Mmusi Maimane Foto: Daily Sun

Volgens die Verkiesingskommissie (OVK) is daar 26,7 miljoen geregistreerde kiesers. Daar word verwag dat tussen 72% en 74% van alle kiesers op 8 Mei sal opdaag om vir een van die 48 politieke partye te stem.

Ipsos, 'n marknavorsingsmaatskappy, sê in 'n verklaring dat onsekerheid onder kiesers oor vir watter party om te stem, sowel as verminderde vertroue in partye en politieke leiers, het in aanloop tot die verkiesing opslae gemaak.

Dit terwyl die voortdurende en hoëprofiel-diensleweringsoptogte ook 'n belangrike kenmerk was.

Die peiling se bevindings is uitgereik nadat Ipsos en die organisasie Africa Check op 25 April 'n geleentheid gehou het waar verteenwoordigers van onder meer die ANC, DA en EFF teenwoordig was. Die jongste peilings en die verskillende partye se verkiesingsmanifeste is ontleed.

Die Ipsos-peiling is van 22 Maart tot 17 April met deelnemers oor die land heen gedoen.

Die Ipsos-peiling is van 22 Maart tot 17 April met deelnemers oor die land heen gedoen.

Deelnemers is ook gevra hoe oortuig hulle is dat hulle op stemdag vir die party sal stem wat hulle gekies het.

Sowat 46% ANC-ondersteuners was oortuig dat hulle vir die regerende party sal stem, vergeleke met 48% van DA-ondersteuners en 47% van EFF-ondersteuners.

Verder het 85% van ANC-ondersteuners ook aangedui dat hulle dié party vertrou, teenoor die 87% van DA-ondersteuners en 93% van EFF-ondersteuners.

Julius Malema Foto: Deaan Vivier
Julius Malema Foto: Deaan Vivier

Geregistreerde ANC-ondersteuners het ook aangedui dat 86% van hulle vertroue in die partyleier, pres. Cyril Ramaphosa, het. Onder DA-ondersteuners vertrou 80% vir Mmusi Maimane. Sowat 88% van EFF-ondersteuners vertrou vir Julius Malema.

Onder alle geregistreerde kiesers is dit egter net Ramaphosa uit bogenoemde drie leiers wat 'n positiewe persentasie van vertroue gekry het.

Ipsos het ook bevind dat 42% van deelnemers saamgestem het dat dit aanvaarbaar is om protesoptogte te begin as hulle ontevrede is met die standaard van dienslewering in hul gemeenskappe. Sowat 37% het nie daarmee saamgestem nie.

Op 'n vraag oor of gewelddadige protesoptogte die enige manier is om dienslewering te kry, het 40% daarmee saamgestem en 42% nie.

Volgens Ipsos word protesoptogte, gewelddadige optogte ingesluit, deur van die deelnemers gesien as 'n vorm van politieke deelname.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM