Só het Oos-Kaap gestem

'n Groep betogers het Woensdag gekeer dat een stemlokaal in die Oos-Kaap nie sy deure kon oopmaak nie.

Die stemlokaal in Ntlangano in Ntabankulu is dieselfde gebied waar kiesers Maandag en Dinsdag ook deur betogers verhoed is om hul spesiale stemme uit te bring.

Mamkeli Ngam, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), sê 591 mense is geregistreer om by dié stemlokaal te stem.

Kiesers het Woensdagmiddag geduldig in die lang ry in Motherwell gewag om te kan stem. Foto: Lulama Zenzile
Kiesers het Woensdagmiddag geduldig in die lang ry in Motherwell gewag om te kan stem. Foto: Lulama Zenzile

"Ons neem aan die mense sal dus nie aan vanjaar se algemene verkiesing deelneem nie. Die kiesers sê hulle is nie van plan om na 'n ander stemlokaal te reis nie."

Selfs nadat Fikile Xasa, Oos-Kaapse LUR van Cogta, Woensdag die betogers toegespreek het en ingestem het om volgens spesifieke spertye aan hul vereistes te voldoen, wou die betogers nie toegee nie.

"Dit is duidelik die betogers wou nie stem nie, ongeag die beloftes wat die regering gemaak het.

"Dit is baie hartseer om te sien hoe so baie mense deur 'n klein groep betogers van hul reg om te stem ontneem word."

Julie Stanworth, provinsiale woordvoerder van die OVK, het bevestig dié stemlokaal was die enigste uit die 4 791 stemlokale in die provinsie wat nie oopgemaak het nie.

Sy sê twee voorvalle is ook in die Buffalo Stad-metro aangemeld, waar kiesers weggewys is deur die mense wat by politieke tafels voor die stemlokaal gewerk het.

Die mense het glo kiesers se name gevra en dan gesê hul name is nie op die kieserslys nie.

Kiesers in 7de Laan in Booysenspark skuil onder die stukkie afdak van die sinkplaathuis terwyl hulle wag om te stem. Foto: Lulama Zenzile
Kiesers in 7de Laan in Booysenspark skuil onder die stukkie afdak van die sinkplaathuis terwyl hulle wag om te stem. Foto: Lulama Zenzile

Intussen het sake in die Nelson Mandelabaai-metro goed afgeloop met geen ernstige voorvalle wat voor die middag aangemeld is nie.

Ondanks enkele stemlokale waar stembriewe nie betyds afgelewer is nie en kiesbeamptes wat laat opgedaag het, was die meeste stemlokale se deure voor 08:00 oop.

Die UDM se Mongameli Bobani, burgemeester van die metro, het met 'n UDM-vlag oor sy skouers by die KwaMagxaki-gemeenskapsaal opgedaag om sy kruisie te trek.

Hy sê hy kan nog goed onthou toe hy die eerste keer gestem het. "Vir my was dit soos Kersfees. Ek het die vorige aand bykans niks geslaap nie en was al vroeg daardie oggend in die ry. Dit was werklik soos Kersfees, soos God wat aarde toe gekom het. Ons het nooit gedink ons generasie sal kan stem nie. Daarom neem ons dit ernstig op om te gaan stem."

Hy sê wat hom egter bekommer, is dat minder as die helfte van die metro se inwoners geregistreer is om te stem. "Hier is 1,2 miljoen inwoners in die metro, maar net meer as 600 000 is geregistreer. Dit wil voorkom asof die jeug nie in groot getalle opdaag om hulle te registreer nie. Dit is kommerwekkend, aangesien die land se toekoms in hul hande is."

Die ANC-LP en Khoi-San-aktivis Christian Martin het sy kruisies by die Chatty-gemeenskapsaal getrek.

Athol Trollip, die DA se federale voorsitter, het Woensdag by die Walmer-stadsaal in Port Elizabeth gestem. Foto: Lulama Zenzile
Athol Trollip, die DA se federale voorsitter, het Woensdag by die Walmer-stadsaal in Port Elizabeth gestem. Foto: Lulama Zenzile

Hy sê met sy stem het hy mense soos Winnie Mandela, Oliver Reginald Tambo en Chris Hani vereer.

Martin meen wanneer dit by die ANC kom, gaan die party beslis die nasionale verkiesing met ongeveer 65% wen.

Sy skatting is dat die ANC in die Oos-Kaap tussen 62% en 67% van die stemme sal trek.

Volgens Martin is dit ook hoog tyd dat een party aan die stuur van die Nelson Mandelabaai-metro kom.

"Koalisieregerings is die grootste vermorsing van tyd vir mense, veral as dit by dienslewering kom."

Die ANC-LP en Khoi-San-aktivis Christian Martin maak gereed om sy stembrief by die houer in te gooi. Foto: Lynn Williams
Die ANC-LP en Khoi-San-aktivis Christian Martin maak gereed om sy stembrief by die houer in te gooi. Foto: Lynn Williams

Maar Bobani, wat aan die hoof van die metro se koalisieregering staan, sê weer koalisieregerings werk. "Voorheen het partye onder mekaar gestry, maar nou gebeur dit nie. En wie weet, ná vandag kan ons dalk vir die eerste keer in die land nóg 'n koalisie sien," sê Bobani.

Oor die talle nuwe partye op die kieserslys sê Martin dat die nuweling, Good, dalk in die Wes-Kaap 'n groot slag sal kan slaan, en dat die African Transformation Movement (ATM) dalk stemme by die DA kan wegraap.

"Die ander kleiner partye gaan nie baie goed vaar in die provinsies nie. Hoewel hulle dalk nasionaal redelik vaar, gaan dit nie goed genoeg wees om setels in die parlement te kry nie.

"Die Khoisan Revolution Party moet eers besef dat ons as Suid-Afrikaners een is. Hoe gouer ons besef ons is Afrikaners en swart, hoe gouer gaan mense besef dat daar net een party is om voor te stem en dit is die ANC."

Marlon Daniels, Patriotic Alliance (PA)-raadslid in die Nelson Mandelabaai-metro, het ook sy stem uitgebring. Foto: Lynn Williams
Marlon Daniels, Patriotic Alliance (PA)-raadslid in die Nelson Mandelabaai-metro, het ook sy stem uitgebring. Foto: Lynn Williams

Mark Beale, 'n voormalige rofstoeier van Champion Pro Wrestling (voorheen WWP), wat onder die skuilnaam The Weasel gestoei het, is deesdae 'n ANC-lid in die Oos-Kaap en parlementskandidaat. Beale het by Alexander Road High gestem en sê hy is opgewonde oor die ANC en pres. Cyril Ramaphosa se planne vir die land.

"Pres. Ramaphosa was baie duidelik hieroor, ja daar was probleme en uitdagings in die verlede, maar hy is besig om die land skoon te maak. Hy verdien die geleentheid om die land tot groot hoogtes te neem."

Beale sê indien hy na die parlement genooi word, sal hy sy ervaring gebruik om die land deur sport vorentoe te neem. "Ek is steeds betrokke by rofstoei en deur ontwikkelingsprogramme wat ons aanbied, soos anti-boelie-programme, kan ons 'n verskil maak. Dit gaan oor die werk wat buite gedoen word, eerder as die sitplek (amp) daar binne."

In Helenvale in die metro het die polisie Woensdag op 'n huis toegeslaan nadat 'n klag ingedien is oor 'n verseëlde boks met stemme wat glo in die huis is.

Die huis is oorkant die Bayview Primary School, waar 'n stemlokaal is.

Die polisie kon by nadere ondersoek vasstel dat dit nie 'n boks met stemme was nie, maar 'n DA-lid se trommel met papiere en toiletpapier daarin.

David Adriaan het die vinger na ANC-lede gewys. "Hulle probeer moles maak en 'n bohaai opskop, want hulle weet die DA gaan in die verkiesing seëvier.

"Die kwaadstokers het die polisie se tyd gemors en 'n bespotting van hulself gemaak," sê Adriaan.

Buiten die herrie oor die boks het die stemproses by die Bayview Primary School vlot verloop.

Mongameli Bobani, die Nelson Mandelabaai-metro se burgemeester, maak gereed om sy kruisies te trek. Foto: Cara-Lee Dorfling
Mongameli Bobani, die Nelson Mandelabaai-metro se burgemeester, maak gereed om sy kruisies te trek. Foto: Cara-Lee Dorfling

In ander dele van die metro het kiesers lank voor 07:00 al voor stemlokale begin toustaan.

Een van hulle was Eoin Laidlaw (75), wat aan longkanker ly. Hy het voor 07:00 met sy suurstoftenk in die hand saam met sy vrou, Merle (76), by die stemlokaal in Sherwood opgedaag.

Laidlaw het Woensdag die moed en die krag bymekaar geskraap om te gaan stem nadat hy 'n dag vantevore nog chemoterapie gekry het.

Die egpaar was erg ontsteld omdat hulle nie Maandag weens hul ouderdom en Eoin se siekte vooraf kon stem nie.

"Ons het hier opgedaag en het die situasie aan die beamptes (van die OVK) verduidelik, maar hulle het ons weggewys omdat ons name nie op die lys verskyn het nie.

"Ek voel hulle kon die situasie baie anders hanteer het," het Merle gesê.

By dié stemlokaal kon inwoners Woensdagoggend eers 30 minute ná oopmaaktyd begin stem, want die stembriewe is laat afgelewer.

In Despatch was Makkie de Lange, 'n plaaslike inwoner, een van die kiesers wat die reën trotseer het om te gaan stem. "Ek voel jy moet baie beslis kom stem vandag, want as jy nie stem nie, mag jy nie kla nie. Ek het gestem om korrupsie te verhoed en die beste vir ons land te kry."

David Fisher, 'n inwoner van Bethelsdorp, sê hy het gestem om 'n beter toekoms vir sy 12-jarige dogter te verseker. "Nadat die ANC al 24 jaar aan bewind is, het hulle nog niks verandering gebring nie. Ons skole lyk pateties, ons hospitale is sleg en die bendegeweld is 'n massiewe probleem in die noordelike gebied. Dit is waarom ek my stem kom neersit het, ons het hulp nodig hier. Ek is 'n kleurlingmens en moes dit vandag kom doen het."

Marlon Daniels, 'n Patriotic Alliance (PA)-raadslid in die metro, het sy kruisies in wyk 37 in Bloemendal getrek.

'n Tussenverkiesing word volgende week in dié wyk gehou, sowel as in wyk 35.

Met sambrele en jasse het inwoners van Despatch Woensdag in die reën in 'n lang ry voor die kerksaal gestaan om te kan stem. Foto: Cara-Lee Dorfling
Met sambrele en jasse het inwoners van Despatch Woensdag in die reën in 'n lang ry voor die kerksaal gestaan om te kan stem. Foto: Cara-Lee Dorfling
Lynn Williams en Cara-Lee Dorfling

SPELETJIES VANDAG

CTA