Die DA kan voortaan die kasregister bestuur in Suid-Afrika se twee grootste provinsies.
Rapport verneem by ANC-bronne met insae tot die onderhandelinge dat Panyaza Lesufi, Gautengse ANC-premier, 'n DA-LPW as sy LUR vir finansies kan aanwys. Dr. Mike Moriarty is glo die groot gunsteling vir dié pos.

Volgens dié bronne sal die DA ook poste as LUR vir landbou; en sport, kuns en kultuur in Gauteng se provinsiale kabinet kry.
Die IVP het glo ook aanspraak gemaak op 'n pos, maar dit is afgeskiet omdat die ANC en die DA saam meer as 50% van die setels hier beklee.
Lesufi wou al Vrydag sy kabinet aankondig, maar wag glo vir goedkeuring van die nasionale onderhandelaars. Die kabinetsamestelling hang ook af van hoe nasionale onderhandelinge vlot.
Verlede week is Lesufi tot Gautengse premier verkies ten spyte van sy party se swak vertoning in die provinsie toe die ANC net 35% van steun kon trek: 15 persentasiepunte minder as in 2019.
Lesufi is met die hulp van die DA onbestrede herkies, met Moriarty wat hom benoem het.

Die ANC se Morakane Mosupyoe is die speaker en die DA se Refiloe Nt'sekhe adjunkspeaker.
Indien die DA die pos van LUR vir finansies in Gauteng kry, beteken dit dat die party nou in Gauteng en KwaZulu-Natal aan die hoof staan van die invloedryke portefeulje.
Francois Rodgers, DA-LPW en provinsiale DA-leier, is die afgelope week deur Thami Ntuli, KwaZulu-Natal se IVP-premier, as die LUR vir finansies aangewys. In sy provinsiale kabinet dien vier IVP-lede, drie ANC-lede, twee DA-lede en een NFP-lid.
Martin Meyer, DA-LPW en LUR vir openbare werke en infrastruktuur, het reeds 'n waarskuwingskoot na die konstruksiemafia gerig.
"Ons sal nou saamwerk met wetstoepassers, want op die ou end is wetstoepassing 'n probleem. Ons gaan nie onderhandel (met die konstruksiemafia) nie, maar sien hoe ons kan saamwerk met wettige sakelui," het hy gesê.




















