Oudregter John Hlophe en die res van die MK-party se nuwe parlementslede (LP's) sal in die nuwe week beëdig word.
Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, het Saterdag bevestig dat alle MK-LP's komende Dinsdag hul ampseed by die parlement sal aflê.
Oudpres. Jacob Zuma se MK-party het 58 parlementêre setels in die afgelope algemene verkiesing verower nadat die party 14,58% van die nasionale stemme ontvang het.

MK sal naas die ANC en DA die derde grootste party in die Nasionale Vergadering (NV) wees. Die party se LP's is nie verlede Vrydag soos die res van alle LP's beëdig nie omdat hulle die eerste NV-sitting uit protes geboikot het weens hul bewering dat die verkiesing nie vry en regverdig was nie.
Mothapo het Saterdag verder gesê voordat nuwe LP's met hul werksaamhede kan begin, moet hulle ingevolge die Grondwet eers deur 'n ampseed getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet sweer of bevestig.
Hoofregter Raymond Zondo of 'n regter wat hy aanwys, sal die nuwe MK-LP's beëdig. Mothapo het ook benadruk dat enige politieke party ingevolge wetgewing hul lys LP's kan aanvul voor die eerste beëdiging ná die verkiesings.
"Dit verseker dat alle aangewese setels gevul is en dat partye ten volle verteenwoordig word. Die parlement het 'n aanduiding van die MK-party ontvang wat hul kandidatelys met gesamentlik 21 LP's aangevul het."
Volgens hom word alle vereiste reis- en verblyflogistiek vir die MK-LP's gereël ter voorbereiding van die eedseremonie.
Die eedseremonie sal Dinsdagmiddag omstreeks 12:00 in die Goodhope-raadsaal by die parlement plaasvind.
Intussen het MK bevestig dat Hlophe, uitgeskopte regter-president van die Wes-Kaap, die party se nuwe leier in die NV sal wees.
Nhlamulo Ndhlela, MK-woordvoerder, sê in 'n verklaring dat Hlophe se "vooraanstaande loopbaan en onwrikbare Pan-Afrika-uitkyk hom gevestig het as 'n formidabele mag teen sistemiese rassisme, veral in die Wes-Kaap".
"Sy reputasie as 'n onberispelike regsgeleerde en gesoute aktivis, wat glo in 'n Afrika-gebaseerde regstelsel, maak hom 'n ideale leier vir die MK-party en Suid-Afrika in hierdie deurslaggewende tyd.
"Ten spyte daarvan dat hy 15 jaar van teistering en onwettig deur die ANC/DA-koalisie verwyder is, het regter Hlophe standvastig gebly in sy stryd vir geregtigheid vir die ontneemdes.
"Ons is nederig deur sy regskundigheid, wat van onskatbare waarde sal wees soos ons enige regsuitdagings sal navigeer wat die DA/ANC-koalisie mag probeer orkestreer. Die MK-party is geëerd deur regter Hlophe se gewilligheid om by ons in ons missie aan te sluit.
"Ons mik om progressiewe aktiviste te verenig om 'n formidabele party te bou wat in staat sal wees om die DA/ANC-koalisie te verslaan, grond sonder vergoeding te onteien en strategiese nywerhede te nasionaliseer om sodoende te verseker dat alle Suid-Afrikaners, veral swart mense, deel in die rykdom van hul voorvaders."
Hlophe se wysheid en aktivisme, saam met die van ander progressiewe aktiviste, sal instrumenteel wees in die bereiking van die ware en totale vryheid wat ons mense die afgelope 30 jaar ontwyk het, het Ndhlela verder gesê.




















