Die parlement is slaggereed vir Vrydag se eerste sitting, wanneer die nuwe president verkies sal word.

Die sitting, die eerste van die Nasionale Vergadering (NV) ná die algemene verkiesing, word in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) gehou en sal begin met hoofregter Raymond Zondo wat die nuwe LP's een vir een beëdig.
Daarna word die nuwe speaker, adjunkspeaker en president verkies.
Saterdag sal die eerste sitting van die Nasionale Raad van Provinsies ook in die konferensiesentrum plaasvind.
Xolile George, sekretaris van die parlement, het Donderdagmiddag op 'n nuuskonferensie by Kiks gesê die Grondwet bepaal dat die aangewese president sy amp binne vyf dae aanvaar nadat hy verkies is.
"Ná die afhandeling van die eerste sittings sal LP's die inhuldiging van die aangewese president, wat geskeduleer is vir 19 Junie in Pretoria, bywoon."
George het bevestig dat die reis- en verblyfreëlings vir die LP's van oudpres. Jacob Zuma se MK-party gekanselleer bly omdat die party weens besware oor die verkiesingsuitslae nie die eerste sitting gaan bywoon nie.

Die eerste sittings sal belastingbetalers R58 miljoen kos.
Dit sluit in die voorbereiding van Kiks as parlementêre perseel, die reis- en verblyfkoste van die nuwe LP's, die verskaffing van werktoerusting aan hulle en die uitsaai van die eerste sittings.
George sê Vrydag en Saterdag se eerste sittings van die parlement verteenwoordig nie net die begin van die nuwe parlementêre termyn nie, maar is ook die "institusionalisering en uitdrukking van die wil van kiesers soos hulle dit in die onlangse verkiesing uitgespreek het".
"Die mense het gepraat. Hulle het 'n parlement gekies wat hulle, as vryelik verkose verteenwoordigers soos weerspieël in die aanhef van die Grondwet, sal verteenwoordig om hul saak te bevorder en om hul belange vir die volgende vyf jaar te dien."
Die parlement se administrasie het die laaste maande intensiewe voorbereidingswerk gedoen om 'n seepgladde oorgang van die sesde na die sewende parlementêre termyn te verseker, volgens George.
"Dit was 'n deurslaggewende oomblik vir ons as 'n nasie, wat 'n delikate grondwetlike proses behels het wat uitdagings ingehou het."
George het ook bevestig dat verskeie partye veranderinge aan hul kandidaatlyste vir nuwe LP's aangebring het.
MK het sewe veranderinge aangebring, die EFF 10 en ActionSA, die DA en die UDM elk een.

Volgens George sal die nuwe president, sodra hy sy nuwe kabinet aangestel het, ook 'n gesamentlike sitting van die parlement aanvra om sy openingsrede te lewer.
"Die openingsrede begin die nuwe vyfjaar- parlementêre termyn waarin die regering se agenda, wetgewende prioriteite en kernbeleidsrigtings uitgestippel word," het George gesê.



















