UDM sluit ook aan by RNE

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die United Democratic Movement (UDM) het die jongste politieke party geword om by pres. Cyril Ramaphosa se regering van nasionale eenheid (RNE) aan te sluit.

Bantu Holomisa, UDM-leier, het dít Vrydagmiddag in 'n amptelike brief wat hy namens sy party aan Fikile Mbalula, ANC sekretaris-generaal, gerig het, bevestig. Hy het dié brief ook openbaar gemaak.

Bantu Holomisa, leier van die UDM. Foto: Gallo Images
Bantu Holomisa, leier van die UDM. Foto: Gallo Images

Terwyl Suid-Afrikaners asem ophou vir Ramaphosa om sy RNE-kabinet aan te kondig, het die partye wat deel is van die RNE met die UDM-aankondiging tot altesaam agt gestyg.

Ander partye wat reeds deel van die RNE is, is die ANC, DA, IVP, PA, Good, PAC en VF Plus.

Dit beteken ook dat die progressiewe koukus van partye, waaraan die UDM ook behoort het, besig is om te krimp. Dit veral nadat die PAC ook vroeër dié koukus verlaat het om by die RNE aan te sluit.

Die progressiewe koukus bestaan nou uit die EFF, Al Jama-ah, die African Transformation Movement (ATM) en United Africans Transformation (UAT).

In sy brief aan Mbalula spreek Holomisa sy dank uit vir die vergadering wat hy, Yongama Zigebe, UDM sekretaris-generaal, en Thandi Nontenja, UDM tesourier-generaal, Vrydag met Mbalula en die ANC gehad het.

Hy sê navrae wat die UDM in sy brief van 17 Junie aan die ANC oor die "konsepverklaring van voorneme" oor die 2024-RNE gehad het, is in besonderhede in Vrydag se vergadering verduidelik.

Volgens Holomisa het hulle ook reeds die besluite van Vrydag se vergadering aan die UDM se nasionale kantoorbestuurskomitee oorgedra.

"Ons neem kennis dat daardie kwessies later deur alle deelnemers aan die RNE bespreek sal word. Die ooreenkoms sal daarna onderteken word en die publiek sal later in kennis gestel word hoe die RNE sal werk.

"Die UDM het sy opvatting van voor die verkiesing gehuldig dat daar blykbaar 'n opkomende konsensus is dat daar geen volstrekte wenner van vanjaar se nasionale en provinsiale verkiesing sal wees nie. Dit behoort nie gesien te word as 'n negatiewe uitkoms nie, maar eerder 'n positiewe uitkoms van 'n florerende demokrasie."

Holomisa skryf verder dat sy party ook tevrede is met die voorneme van 'n nasionale dialoog, 'n "ekonomiese Codesa" of iets soortgelyk wat die UDM volgens hom al jare lank bepleit.

Hy skryf dat die UDM ook van mening is dat sommige van die besluite wat by die voorgestelde nasionale dialoog geneem sal word, wetgewing sal vereis om betekenisvolle ingryping in die toekoms van Suid-Afrika te bewerkstellig.

"Neem ook kennis van ons voorstel dat 'n tegniese komitee gestig moet word nadat die RNE in plek is om al die lede se manifeste te ondersoek ten einde beleid te formuleer. Hierdie komitee moet ook die manifeste van daardie partye buite die RNE wat in die parlement verteenwoordig word, in ag neem omdat hulle ook 'n mandaat van kiesers gekry het om verandering in Suid-Afrika te bewerkstellig.

"Die UDM aanvaar hiermee die uitnodiging om by die RNE aan te sluit," skryf Holomisa verder aan Mbalula.

SPELETJIES VANDAG

CTA