KKNK | Soveel meer as hare

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Drama: My kroon se krank. Met Veronique Jephtas. Teks: Veronique Jephtas en Lynthia Julius. Regie: Tinarie van Wyk Loots. Op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees tot 5 April.

Eerlik op die mens af. Heerlik snaaks en lekker hardegat ook. 'n Stem wat gehoor moet word, klink op in die eenvroustuk My kroon se krank, geskep deur die gerekende digters Veronique Jephtas en Lynthia Julius.

Veronique Jephtas in ‘My kroon se krank'. Foto: Jaco Marais
Veronique Jephtas in ‘My kroon se krank'. Foto: Jaco Marais

Dit gaan hier oor hare, hare wat nie sy lê kan kry nie, hare wat juis woes moet staan, hare waarmee die mens wie se kroon dit is, regtig kan doen wat hulle wil, hare wat identiteit is en jou plek aandui - wat 'n merker en 'n baken is, hare wat ook eens die smaad van 'n potlood moes dra. My kroon se krank gaan oor baie, baie meer. Die plek van die bruin mens in Suid Afrika, ook die plek van die jong bruin vrou wat haar plek opeis, en gewoon basta met die res.

Eers amper wit, nou amper swart - heeltyd nie heeltemal in plek nie, of só wil dit voorkom. Dit is politiek, ja, waar daar steeds geen tuiste is nie. Nie by AfriForum, nie by die EEF of ANC nie.

Jephtas vertolk drie kontemporêre bruin vroue - die teaterganger kry direk insae in die leefruimtes van hoe daar generasiegapings en verwagtinge is, hoe daar ge-date word, hoe seks beleef word, rasseverhoudinge in 'n land waar kleur steeds gesien word. Diegene wat sê hulle sien nie kleur nie, wat maak hulle dan by 'n robot? spot Julius. Snaaks, ja, maar hier is 'n angel en 'n prik tot bewussyn.

Jephtas, met 'n allemintige kroon wat rooi gekleur is, staan alleen in die kollig. Om haar voete lê 'n massa sintetiese hare wat sy om haar lyf draai. Dit raak soos 'n karos, later soos 'n balrok wat uitklok om haar lyf. Trots en fier staan sy daar - sy neem haar plek in.

In net 60 minute raak dinge gewigtig, Jephtas draai nie doekies om nie. Sy is reeds 'n gerekende digter en nou wys sy dat sy ook 'n uitstekende vertolker en kommentator is.

Tot 5 April. Later in April ook op die Suidoosterfees in Kaapstad.

Veronique Jephtas in ‘My kroon se krank'. Foto: Jaco Marais
Veronique Jephtas in ‘My kroon se krank'. Foto: Jaco Marais

SPELETJIES VANDAG

CTA