KYKGIDS | Dié programme is witwarm

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gail Mbalane en Sindi Dlathu in die Netflix-reeks ‘Unseen 2’. Foto: Netflix
Gail Mbalane en Sindi Dlathu in die Netflix-reeks ‘Unseen 2’. Foto: Netflix

As jy nog nie die plaaslike reeks Unseen 2 op Netflix gekyk het nie, moet jy dit onmiddellik boaan jou kyklysie vir die naweek sit. Netwerk 24 het 'n hele paar gewilde en nuwe reekse by vandeesweek se kyklys ingesluit, asook 'n heerlike fliek, perfek vir Moedersdag.

Keuse van die week

Unseen, Netflix

Die tweede seisoen van Unseen op Netflix vinnig, pynlik en onmoontlik om te ignoreer. Die skrywers by Gambit Films het geen plan om die tempo te laat sak nie, en die toetrede van Erica Wessels as speurder Visser tot die reeds vurige ensemble voeg 'n koeler, skerper rand aan die bestaande spanning.

Zenzi Mwale (Gail Mabalane) is terug. Hierdie keer agter tralies, maar steeds net so vasberade, gevaarlik en onvoorspelbaar. Sy oorleef aanslag op aanslag - van speurders wat haar wil vaskeer tot 'n magtige skadu-netwerk wat haar stil wil hou. Want Zenzi weet iets wat sy nie moet nie. Iets wat mense in duur snyerspakke kan laat val.

Soos tevore laat sy 'n spoor van lyke agter haar - dit klink oordrewe, maar met Unseen werk dit. Dié keer word sy gedwing om alliansies te vorm met mense wat sy normaalweg sou vermy: in die tronk met die geharde TK (Danica Jones), en buite met haar vervreemde suster, Naledi (Dineo Langa), wat self in haar eie drama vasgevang is. Hierdie keer kry die kyker egter 'n dieper blik in die susters se geskiedenis - die traumas wat hulle gedeel het, die fyn drade van pyn en lojaliteit wat hulle steeds bind. Dit bring 'n emosionele diepte wat die eerste seisoen kortgekom het.

Een van die nuwe teenstanders op haar pad is speurder Visser, wat 'n koue teenwig bied teen die ruwe emosie van Zenzi se stryd. Haar teenwoordigheid bring 'n ander soort gevaar.

Twee jaar ná die eerste seisoen voel dié een meer afgerond en die emosionele kant is op die voorgrond.

Unseen bly een van die mees onvoorspelbare plaaslike reekse op Netflix - en een van die mees geslaagdes. Dit weet hoe om sy kyker vas te trek en nie weer los te laat nie. Want dis nie elke dag dat 'n huishoudster die mees gevreesde figuur op jou skerm is nie - maar dan is Zenzi Mwale ook allermins alledaags.

Gail Mabalane dra weer die reeks met haar intense, spel as Zenzi, maar dis geensins 'n solo-vertoning nie - Frank Rautenbach bring sy eie staal as die ongenaakbare Andrew Harting, en die sterbelaaide ensemble, met name soos Siv Ngesi, Kevin Smith, Colin Moss, Ilse Klink, Brendon Daniels en Danica Jones, hou die spanning aan alle kante dig gespan.

Die tweede seisoen is propvol aksie - met nuwe gesigte, ou vyande en elke denkbare draai wat jou op die verkeerde voet vang, bly Unseen 'n woedende dans tussen skuld, oorlewing en skuldige gesigte. - Kelly-Lee Ohlson

Moedersdag-fliek

Never Let Go, Showmax

Met Moedersdag om die draai kies ons dié week 'n fliek wat moed, beskerming en die krag (en kompleksiteit) van moederskap onderstreep.

In Never Let Go gee Halle Berry gestalte aan 'n alleen-ma wat haar twee seuns grootmaak in 'n afgesonderde hut - glo as die laaste oorlewendes van 'n wêreld wat deur 'n onsienlike kwaad verwoes is. Sy vertel hulle van "The Evil", 'n bedreiging wat net sy soms kan sien . . . en wat soms die gedaante van haar eie oorlede ma aanneem.

Soos die honger en twyfel toeneem, begin die seuns haar reëls bevraagteken. Wat is werklik: die gevaar buite, of die vrees wat hulle binne inperk?

Dit is 'n spanningsvolle, emosionele reis oor moederskap, opoffering en die dun grens tussen beskerming en beheer.

Never Let Go is 'n rou, verrassende kykie in wat dit beteken om ma te wees.

Goeie nuus

Squid Game 3, Netflix:

Die derde en laaste seisoen van Squid Game is om die draai, en die pas uitgereikte lokprent bied aanhangers hul eerste kykie ná die dramatiese klimaks van Netflix se gewildste reeks tot nog toe.

Squid Game bly steeds die grootste treffer op Netflix en hou 'n wêreldwye gehoor vasgenael. Die tweede seisoen, wat in Desember 2024 verskyn het, het verskeie rekords laat spat: Dit het die meeste stromings in sy uitreikingsweek getrek en was binne drie dae op die lys van gewildste nie-Engelse reekse.

Seisoen 3 tel die verhaal op waar die tweede geëindig het - Gi-hun (Lee Jung-jae), ook Speler 456 genoem, word weer in die dodelike wêreld van die speletjies ingesleep, vasbeslote om dit van binne af tot 'n val te bring. Maar hy dra steeds die letsels van verraad en verlies ná die dood van sy bondgenoot, Jung-bae (Lee Seo-hwan), oftewel Speler 390. Hierdie keer wag nóg groter gevare - onder andere die geheimsinnige Front Man (Lee Byung-hun), wat blykbaar hul opstand van binne gesaboteer het deur homself as Speler 001 te vermom.

In die nuwe lokprent sien ons hoe pienk wagte weer eens 'n swart kis dra - soos dié wat voorheen vir gevalle spelers gebruik is. Die spelers, versigtig en bang, maak dit oop . . . en binne-in lê Gi-hun. Wanneer hy sy oë oopmaak, begin die volgende speletjie. 'n Reusagtige kougommasjien spoeg rooi en blou balle uit -'n simbool van die noodlot wat op hulle wag. Die spanning bou op . . . en die lokprent eindig met die geheimsinnige gehuil van 'n baba.

Squid Game 3 begin op 27 Junie. - Kelly-Lee Ohlson

Nuut en opwindend

Exterritorial, Netflix:

Jeanne Goursaud speel die hoofrol in Exterritorial, 'n spanningsvolle aksierolprent op Netflix wat draai om Sara, 'n voormalige spesialemagte-soldaat met post-traumatiese stres ná 'n aanval in Afganistan waarin haar seuntjie, Josh, se pa (Evan, gespeel deur Godfrey Egbon) gesterf het. Toe Josh spoorloos verdwyn binne die grense van die Amerikaanse konsulaat in Frankfurt, moet sy haar soldaatbrein én ma-hart inspan om hom te red - selfs al beteken dit om elke moontlike reël te breek.

Klink voorspelbaar? Dalk. Maar Exterritorial is verrassend vermaaklik. Ek was eintlik ingesluk. Veral danksy Goursaud, wat nie net skop en skiet nie, maar ook 'n diep oortuiging in haar spel bring. Sy ís dié ma wat alles sal doen. Die tipe rol wat maklik in clichés kan verdrink, maar sy hou dit menslik - en net hard genoeg. - Kelly-Lee Ohlson

The Four Seasons, Netflix:

Hierdie komedie-drama met agt episodes volg drie middeljarige paartjies wat elke seisoen saam vakansie hou. Maar wanneer een egpaar skei en die man sy veel jonger vriendin saambring, begin die dinamika kraak. Die reeks is 'n herverbeelding van Alan Alda se gelyknamige 1981-film, met Tina Fey, Steve Carell, Will Forte, Colman Domingo en Kerri Kenney-Silver in die hoofrolle.

Die storie begin met 'n ongemaklike oomblik: Anne (Kenney-Silver) beplan 'n verrassingsvernuwing van hul huweliksbeloftes, net om uit te vind dat haar man, Nick (Carell), wil skei. Hy stel dan sy nuwe vriendin, Ginny (Erika Henningsen), aan die groep voor, wat spanning veroorsaak. Die reeks balanseer humor en hartseer, en ondersoek temas soos liefde, vriendskap en die kompleksiteite van langtermynverhoudings.

The Four Seasons bied 'n ligte, humoristiese en soms pynlik herkenbare blik op huwelik en vriendskap in latere lewensjare. - Kelly-Lee Ohlson

A Complete Unknown, Disney+

Dié drama gaan oor Bob Dylan, een van die mees ikoniese sangers en liedjieskrywers in wêreldgeskiedenis. Die fliek volg Bob Dylan (Timothée Chalamet) wat in die vroeë 1960's na New York verhuis om 'n loopbaan in musiek te volg. Die storielyn verken Dylan se verhoudings met sleutelfigure in sy lewe, onder wie sy meisie Suze Rotolo (Elle Fanning) en die legendariese Joan Baez (Monica Barbaro), wat toe nog 'n opkomende musikant was.

Dylan smee verhoudings met musiek-ikone van Greenwich Village wat die pad vir hom oopmaak vir sy baanbrekende en omstrede musiekloopbaan wat wêreldwyd 'n impak gemaak het. Hy speel aanvanklik in klein, donker kroeë en teken 'n kontrak met Columbia Records toe sy faam begin vlamvat. Hy bereik 'n keerpunt wanneer die skare by die New Port Folk Festival in Julie 1975 handuit ruk omdat hy met 'n orkes en elektriese kitare opgetree het. Sy aanhangers wou die ou Dylan hê, hul held met die akoestiese kitaar.

Die fliek delf in Dylan se stryd met roem en identiteit. Dit ondersoek ook die spanning tussen artistieke egtheid en kommersiële sukses.

Chalamet verdien 'n pluimpie vir sy vertolking van Dylan. Hy het Dylan se sku dog hardkoppige andersheid en sy ampers onduidelike spraakritme met fyn nuanses vasgevat. Chalamet sing ook self, wat sy spel as 'n meesterlike vertolking afrond.

Edward Norton speel die rol van Pete Seeger en Scoot McNairy vertolk die rol van Woody Guthrie, een van Dylan se musiekhelde vir wie hy in die hospitaal gaan kuier by sy aankoms in New York.

Moenie 'n dramatiese storielyn verwag nie. Die fliek is meestal een lang jam. Rustig, soos Dylan self. - Liny Kruger

Dokkietyd

Ter viering van sir David Attenborough se 99ste verjaardag op 8 Mei word Ocean, sy nuutste dokumentêre rolprent, wêreldwyd in teaters uitgereik. Attenborough beskryf dit as sy belangrikste werk tot dusver - ná 'n loopbaan van meer as 100 dokumentêre rolprente oor agt dekades. In Ocean beklemtoon hy die kritieke rol van die oseaan as die planeet se lewensondersteuningstelsel en die mens se bondgenoot teen klimaatsverandering. Tog wys hy op die verwoestende impak van treilvissery, wat die see se ekostelsels vernietig.

Aangrypende tonele van koraalriwwe, kelpwoude en oop oseane wys hoe 'n gesonde see die planeet kan laat floreer. Die dokumentêr sluit ook aan by Attenborough se lewenslange fassinasie met die natuur, soos gesien in reekse soos Life on Earth en Living Planet, en sy bekroonde boek A Life on Our Planet. Die regisseurs is Toby Nowlan, Keith Scholey en Colin Butfield.

Ocean word op 8 en 10 Mei in verskeie Ster-Kinekor-teaters landwyd vertoon, asook by die Labia in Kaapstad. Bespreek by sterkinekor.com. Dit sal later ook gestroom kan word. - Laetitia Pople

Herschelle Benjamin, dramaturg en publisiteitsbestuurder van kykNET, deel sy kykplesiere.

Waarna kyk jy tans en hoekom?

Niggies (vanselfsprekend) op kykNET weekliks, want dis een van die beste Afrikaanse reekse tot nog toe, asook The Studio en Your Friends and Neighbours op Apple+ - al twee is nuut, maar met uiteenlopende stories, in die genre van dramatiese komedie, en uitstekend verfilm met 'n paar stervertolkings deur akteurs.

En dan ook The Handmaid's Tale op Showmax, want ek móét sien hoe dinge gaan uitdraai vir June en Serena in die laaste seisoen. Die reeks bied ook soos oudergewoonte 'n perspektief op 'n distopiese land waar vroue (en kinders) onderdruk word en die stryd om 'n stelsel te verslaan. Elisabeth Moss het reeds pryse gewen met haar vertolking in die reeks geskoei op die Margaret Atwood-boek. Ek geniet maar prestige drama!

The Four Seasons van Tina Fey op Netflix was ook 'n onlangse hoogtepunt. Nes Fey weet ek nie juis hoekom middeljarige huwelike so fassinerend en humoristies vir my is nie. Veral in hierdie reeks - daar is heerlike patos en dis sonder pretensie. En die dialoog is lieflik. Ek het dit gebinge en ek is 'n bietjie spyt ek het, want om elke week 'n nuwe episode te kyk is soms baie beter. Veral met so 'n reeks.

Ek het You op Netflix ook baie geniet. Die einde van die finale seisoen was skouspelagtig in drama.

Wat is die programme waarna jy altyd terugkeer en hoekom?

Amerikaanse sitkoms soos Big Bang Theory, Young Sheldon en Two and a Half Men, want dis lig en die episodes is kort.

Wat is die programme wat aanlyn baie aandag gekry het, maar jy nie geniet het nie?

Aan The Last of Us kon ek nie vatplek kry nie. Dis dalk nie soseer die storie nie, maar dalk net die genre. Ek is nog nie heeltemal seker nie, maar dalk sal ek dit in die toekoms binge en sal dit my oortuig. Tog is ek 'n aanhanger van Pedro Pascal.

Herschelle BenjaminFoto: Verskaf
Herschelle BenjaminFoto: Verskaf
Saamgestel Deur Kelly-Lee Ohlson

SPELETJIES VANDAG

CTA