
Die laaste ding wat Sandra Schnackenberg van Pretoria Vrydagaand verwag het, was om tussen 36 bruide as die wenner van Beeld se Bruid van die Jaar-kompetisie, in samewerking met World Leisure Holidays, gekroon te word.
"Dit voel heeltemal onwerklik, maar dit maak my so gelukkig. En dit wys ook vir my ek was net myself toe ek 'n bruid was en ook myself tydens die beoordelingsproses," het Schnackenberg gesê toe sy en haar man, Robert, met wie sy in Januarie getroud is, 'n blaaskans gevat het op die dansvloer.
Die sanger Willem Botha, die gaskunstenaar op die gala-aand by Vodacom World in Midrand, het verseker dat almal kon langarm soos op 'n behoorlike partytjie (of trou-onthaal!).

Dis 'n besondere eer om Beeld se Bruid van die Jaar 2023 te wen omdat dit saam met Beeld se 50ste verjaardag val, en ook omdat daar drie keer meer as die gewone 12 bruide aan vanjaar se kompetisie deelgeneem het, sê Schnackenberg.

Daar was meer as R370 000 se pryse op die spel, sê Cornette Zietsman, Beeld se handelsmerkbestuurder. Dit sluit in kontant, vakansies, luukse beddens, horlosies, geskenkpakke en skoonheidsprodukte vir die wenner, Schnackenberg, die naaswenner, Chantelle Labuschagne, wat ses maande swanger is, en dan Monique Cross, wat die derde plek verower het.
Vrydag was 'n vol dag van beoordeling om die 36 bruide beter te leer ken voordat elke bruid haar oomblik op die loopplank voor die gehoor gekry het tydens die spoggerige geleentheid waar die aktrise Therese Bam die verrigtinge gelei het.

Chrisné Niebuhr, verlede jaar se wenbruid en een van die beoordelaars, sê Schnackenberg se natuurlikheid, gemaklikheid en eiesoortige troue het haar net 'n rapsie bo die ander bruide laat uitstaan. "Dit was 'n baie moeilike besluit om tussen soveel bruide te kies, maar ons het gesoek na iemand wat opreg is en wat die titel met styl sal kan dra. Sandra was alles waarna ons gesoek het, al wens ons daar kon minstens vyf wenners gewees het."
Die glansgeleentheid sal eersdaags op Bravo! op kykNET uitgesaai word.

















