Vandag verskyn die voorloperbruide vir Augustus 2023 in Beeld se Bruid van die Jaar-kompetisie in samewerking met World Leisure Holidays. Hulle is Lou-Hanri Breedt, Monique Cross en Ansunèl Schutte.

Lou-Hanri Breedt van Pretoria is op 11 Augustus met Nathan getroud. Sy is 'n onderwyseres en hy 'n sake-eienaar.
"My hoogtepunt van die troue was toe die deure oopgaan en ek sien my toekomstige man daar staan. Ek het net oë gehad vir hom. Die drukkie tussen hom en my pa was so 'n opregte skoonseun- en skoonpa-drukkie. My ma se pragtige woorde het my weer laat sê dankie Jesus vir die voorreg om albei my ouers nog te kan hê. Alles was net perfek!"

Monique Cross is van Houtbaai en sy is op 5 Augustus met Marten getroud. Sy is 'n binnenshuise versierder, maar tans voltyds ma en Marten 'n sake-eienaar wat The Dimond Shoppe besit.
"Die hoogtepunt van ons troue was beslis om ons beloftes af te lê. Ons het ons eie beloftes geskryf, en tot ons verbasing en vermaak was dit amper dieselfde! Veral die belofte dat ons altyd op countrytreffers in ons sitkamer sal dans en die een van ses kinders!"

Ansunèl Schutte van Bothaville is op 12 Augustus met Dèrick Beeslaar getroud. Sy werk in die mediese bedryf en Dèrick is 'n silo-bestuurder.
"My hoogtepunt van die troue was die seremonie en die onthaal. Ek was skoon bewoë toe ek my man voor die kansel sien en ek was so kalm, want ek het geweet dié man maak my rustig. Ons het die lekkerste DJ gehad en die mense het ongelooflik lekker geëet en gedans. En dit is die rede hoekom ons Monte Bello Estate gekies het as ons venue. Ons troue was vir ons perfek en daar is niks wat ek sou verander het nie."
September-bruide, julle het tyd tot 19 Januarie om jul inskrywings te stuur en ook 'n kans te hê om een van ons finaliste te wees.
Nuwe proses
Die drie maandelikse voorloperbruide dring deur na die finale by die gala-aand volgende jaar. Daar word nie 'n maandwenner aangewys nie.
Op die kroningsdag word daar van die drie voorloperbruide van elke maand verwag om 'n voldagsessie saam met die beoordelaars by te woon waar die wenner bepaal sal word. Die aand is 'n semiformele geleentheid saam met die bruide, hul eggenote en hul genooide gaste.
Sperdatums
- September-bruide: 19 Januarie 2024
- Oktober-bruide: 16 Februarie 2024
- November-bruide: 15 Maart 2024
- Desember-bruide: 12 April 2024
Skryf só in
Die kompetisie duur van 16 Junie 2023 tot 16 Mei 2024. Jy moet in 2023 trou of getrou het om te kan deelneem. Beeld be- hou hom die reg voor om jou huweliksertifikaat aan te vra. Slegs Suid-Afrikaanse burgers met 'n geldige ID-dokument mag deelneem. Deelnemers moet ouer as 18 wees.
- Verstrek die volgende in 'n Word-dokument:
a) Troudatum;
b) Bruid se naam en getroude van;
c) Bruidegom se naam en van;
d) Bruid en bruidegom se kontakbesonderhede (e-posadresse en kontaknommers);
e) Woonadres.
- Antwoord die volgende vrae in dieselfde Word-dokument:
a) Waar het julle mekaar ontmoet?
b) Hoe lank ken julle mekaar?
c) Watter beroepe beoefen julle?
d) Wat is jul belangstellings?
e) Vertel ons van jou troue. Was daar 'n tema en wat was jou inspirasie?
f) Beskryf jou troudagstyl. Hoe het jy op jou rok en voorkoms besluit?
g) Wat was jou hoogtepunt van die troue?
- Troufoto's: Heg kleur of swart-en-wit foto's aan in jpeg-formaat. Foto's moet elk 'n minimum van 1 MB groot wees.
- Bruid: kop-en-skouer-foto
- Bruid: vollengte foto
- Egpaar: foto
- Dit is die persoon wat inskryf of namens 'n bruid inskryf, se verantwoordelikheid om te verseker dat alle inligting wat verskaf word, akkuraat en volledig is.
- Daar word nie e-pos-korrespondensie oor inskrywings gevoer nie.
- E-pos-inskrywings moet vóór 12:00 op die sluitingsdag na bruide@media24.com gestuur word. Ons maak geen uitsonderings vir laat inskrywings nie.

















